Grondeise weer in Bronberg-gebied ingestel PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 27 August 2012 17:34
Untitled Document

Grondeise op Boschkop, Kleinfontein, Rhenosterfontein, Zeekoeigat en Kameelfontein is in die Staatskoerant van 20 Julie gepubliseer. Kommentaar oor dié eise moes binne 21 dae ná publikasie, op 9 Augustus, in wees.

Bone Johannes Mokwena het ‘n eis ingestel op Kleinfontein 368 JR, gedeelte twee, 38 en 90 en ook op Rhenosterfontein 514 JR, gedeelte een. Julius Kabini het ‘n eis ingestel op Boschkop 369 JR, gedeelte 307.

Mbagwa Johannes Mahlangu het ‘n eis ingestel op Zeekoeigat 296 JR, gedeelte 16 en 101. Bopane Mahlangu se grondeis is op Kameelfontein 297 JR, oorblywende gedeelte van gedeelte 14 en 35.
Die eise is ingestel volgens kennisgewing 567 van 2012 by die streeksgrondeise kommissaris vir Gauteng en Noordwes provinsie, LH Maphutha. Die kommissie op grondregte sal die eise ondersoek.

Eise
Lynette du Plessis van die Transvaalse Landbou-unie (TLU) sê dié unie het kennis ontvang dat daar heelwat grondeise in die Bronkhorstspruit-gebied ondersoek word.

Lynette verduidelik dat baie mense nie weet dat daar eise op hulle grond ingestel is nie, omdat die Departement van Grondsake nie aanvanklik verplig is om enige grondeienaar daaroor in te lig nie. 

Klaarblyklik is die eise wat nou gepubliseer word, nie nuwe eise nie. Mense wat gemeen het dat hulle onregmatig van hulle grond verwyder is ná 1913 kon grondeise op die betrokke grond instel. Eisers het tot 31 Desember 1998 geleentheid gehad om ’n grondeis in te dien.

Kennis
Die Departement van Grondsake ondersoek die eise, maar hulle hoef die grondeienaars eers daarvan in kennis te stel as die geldigheid van die eis vasgestel is. Tot die geldigheid van ’n eis deur die Grondeisekommissaris bepaal is, kan die eienaar die grond verkoop of enige verbeteringe aanbring.

Sodra die geldigheid van die grondeis bepaal is, word die eis in die Staatskoerant gepubliseer. Die grondeienaar kry dan ‘n spesifieke tydperk om kommentaar oor die eis in te dien. Kennis moet gegee word indien die eis teengestaan word.

Lynette sê mense word aanbeveel om plaastoegang protokol toe te pas. Die reg van toegang tot eiendom bly dié van die grondeienaar tot die afgehandeling van die eis.

Advies
Volgens Lynette is die beste advies vir grondeienaars wat landbougrond besit om in te skakel by georganiseerde landbou. Mense is onder die indruk dat  slegs kommersiële boere lid van TLU SA kan wees, maar enigiemand wat landbougrond in sy of haar naam geregistreer het, kan lid word.

Die TLU moniteer wette en staatskoerante sodat hulle dadelik vir grondeienaars in kennis kan stel as hulle eiendom geraak word deur ‘n publikasie in die Staatskoerant of Gauteng Gazette.

‘n Volledige riglyn wat die proses verduidelik, aanbevelings maak, en sê wat grondeienaars kan verwag en wat hulle te doen staan word aan TLU-lede beskikbaar gestel.

Kontak
Vir meer inligting, bel Lynette du Plessis by tel: 012-804-8031, faks: 012-804-2014 of e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

Skakel die kantoor vir die Grondeisekommissaris by tel: 012-310-6620 of stuur ‘n faks na 012-323-2961.

 

© 2019 Die/The Bronberger