PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 27 August 2012 17:32
Untitled Document

Mense wat op plotte woon se vee, hetsy jy een koei of ‘n duisend skape het, moet gebrandmerk of getatoeëer wees.

Slegs 13.5% van alle vee wat in Gauteng gesteel en by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) as gesteel aangemeld word, is gebrandmerk of getatoeëer. So het Lt Kolonel Johann Scott, koördineerder van veediefstal in die SAPD Gauteng, gesê met die Veediefstalforumvergadering wat op 1 Augustus saam met die Gauteng Rooivleisprodusente organisasie (GRPO) se hoofbestuur-vergadering gehou is. Die GRPO is die beheerliggaam van die Veediefstalforum in Gauteng.

Die forum was dit eens dat dié statistiek skokkend en van wesenlike belang is. Dit dui daarop dat vee wat nie volgens wetgewing gebrandmerk of getatoeëer is nie, die teiken van misdadigers sal wees.

Dié wetgewing is die Wet op die Identifikasie van Diere, Wet 6 van 2002. Artikel sewe van die wet bepaal die verpligtinge wat op die eienaar van vee geplaas word. As jy nie jou vee volgens wetgewing in ‘n veediefstalsaak kan identifiseer nie, kan jy nie jou vee terugeis nie en word dit verbeurd verklaar aan die staat.


Alle vee moet gebrandmerk word
Foto: Dickinsoncattle

Veilings
Die GRPO het ook ‘n beroep gedoen dat die SAPD se veediefstaleenhede hulle fokus veral op veilings moet plaas. Nie net die eienaars van vee sal beboet moet word indien vee nie volgens wetgewing geïdentifiseer is nie, maar alle betrokke partye.

Lt Kolonel Scott het ook gemeld dat die Gauteng Veediefstaleenheid gaan begin om opleiding aan alle lede van die SAPD se landelike veiligheidsafdelings te verskaf om hulle te bemagtig in die polisiëring van veediefstal en veediefstal-verwante klagtes.

Vir navrae bel vir Willie Clack, voorsitter van die GRPO, by 082-574-2653 of vir Lt Kolonel Johann Scott, koördineerder van Veediefstal Gauteng, by 082-335-1083.

 

© 2019 Die/The Bronberger