Cullinan deur ? ambassadeurs? binnegeval PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 27 August 2012 17:30
Untitled Document

Cullinan se 65 ‘toerisme-ambassadeurs’ gaan minstens tot Julie volgende jaar nog daagliks die dorpie se strate volstaan. Die kanse is goed dat die ‘projek’ daarna vir minstens nog ‘n jaar verleng gaan word.
Die afgelope maande het die ‘ambassadeurs’ met hulle wit baadjies en glim-hempies ‘n bekende gesig op die dorp geword, waar hulle in groepies langs Mainstraat en Oaklaan staan en kuier of stadig heen en weer drentel.

Baie inwoners en mense wat toerisme-ondernemings in Cullinan bedryf is erg ongelukkig oor die projek. Hulle meen dit is ‘n mors van belastingbetalersgeld en dat die klomp baie sigbare ‘leeglêers’ eerder die beeld van die dorp en toerisme skaad as bevorder. Die hoeveelheid toeriste regverdig volgens hulle nie soveel gidse nie.


‘n Groepie ‘toerisme-ambassadeurs’ besig met hulle dagtaak voor die poskantoor

Die werkers is deel van ‘n groep van 200 wat deur die Gautengse toerisme owerheid (GTO) in die groter Dinokeng-gebied ontplooi word. Die projek vorm deel van die Suid-Afrikaanse departement van toerisme se strategie wat werkskepping en die bevordering van toerisme ten doel het. Soortgelyke projekte word landwyd bedryf.

‘n Toerisme ontwikkelingsfonds is gestig wat volgens ‘n vroeëre verklaring van die Gautengse provinsiale regering gebruik moet word vir die ontwikkeling en bemagtiging van voorheen benadeelde mense in die toerismebedryf.

Volgens Dumisane Ntshangase van GTO wat met Cullinan en Dinokeng se ‘toerisme-ambassadeurs’ gemoeid is, word die projek deur ‘n private instansie namens Gauteng bedryf. Hy kon nie sê hoeveel geld daarvoor begroot is nie. Na verneem word, word die werkers R120 elk per dag betaal.

Dumisani sê hulle is wel bewus van sakemense wat erg gekant is teen die projek op Cullinan, maar baie ander verwelkom die inisiatief. Cullinan se kamer van koophandel word op ‘n gereelde basis geraadpleeg oor die maniere om die toerismewerkers nuttig aan te wend.


Dié groep van agt op die hoek by die Fourways-kruising was erg omgekrap toe die foto geneem is. Hulle het gesê hulle mag nie afgeneem word nie. Een het die voertuig se nommer in ‘n boekie neergeskryf en gedreig: “We wil get you!”

Dumisani sê dit help nie om ‘n groot geraas oor die mense te maak en die projek summier as ‘n mislukking af te skryf nie. Pleks dat die beswaarmakers met voorstelle kom oor hoe die mense beter benut kan word, sê hy. Hulle is reeds toegerus om toeriste se vrae te beantwoord en by te staan om die pad na verskillende besienswaardighede en ondernemings te beduie as die toeristetrein byvoorbeeld Cullinan toe kom.

Volgens hom word gereelde opleidingskursusse gehou om die toerismewerkers beter op te lei. Een van die mikpunte van die projek en ander soortgelykes is om te help met beveiliging en die bekamping van misdaad in toerismegebiede. Groot sukses daarmee is al op plekke soos Blyderivier behaal.

‘n Ander mikpunt is werkverskaffing en die toerusting van werkloses om vorentoe in die toerismebedryf produktief in diens geneem te kan word. Al die mense wat op Cullinan opgelei word, is werklose mense van plekke soos Refilwe, Onverwacht en plakkerskampe in die omgewing.

Die Bronberger is bewus van minstens twee Cullinanse sakemense wat deur die werkers van ‘intimidasie’ aangekla is. Besoeke van gesondheids- en dranklisensie-inspekteurs is kort daarna aan dié ondernemings gebring.

 

© 2019 Die/The Bronberger