Ons eie webwerf Print E-mail
News - Kommentaar
Thursday, 19 June 2008 21:58
Untitled Document

Die Bronberger het uiteindelik sy eie webwerf gekry. Vir lesers is artikels uit vorige uitgawes nou ‘n kliek naby en 24 uur ‘n dag beskikbaar. Vir adverteerders is daar nou ‘n geleentheid om deel te word van ‘n aanlyn besigheidsgids van ons omgewing.

Uit die aantal oproepe wat Die Bronberger daagliks ontvang, het ons besef dat daa ‘n groot behoefte is aan die beskikbaarheid van inligting vir diegene wat ‘n uitgawe van hul gunsteling tydskrif gemis het of dié wat ‘n uitgawe verlê het en nou dringend op soek is na ‘n spesifieke adverteerder se telefoonnommer.

Die webwerf begin as ‘n argief-sisteem vir vorige uitgawes. Ons plaas alle inligting uit uitgawes vanaf Januarie vanjaar op die webwerf. Die nuutste uitgawe sal op die webwerf verskyn nadat Die Bronberger elke maand verskyn het.

Daar ook ‘n afdeling waar lesers hulle kan verlustig in al Die Bronberger se vorige voorblaaie, waarvan daar nou al 69 is. Mettertyd sal daar agter elkeen van die ouer voorblaaie een of twee artikels uit daardie maand se uitgawe verskyn.

Die artikels wat sedert Januarie vanjaar gepubliseer is, kan aan die linkerkant van die webwerf in onderafdelings gevind word. Dié afdelings strek van briewe, aktueel, brokkies, kommentaar, artikels, Vreethans, ons mense, ons omgewing tot toeka se dae. Alle ‘ou poon se plotpraatjies’ en ‘the final word’ rubrieke kan ook hier gevind word.

Bo-aan die webblad kan ‘n mens meer inligting kry oor wie ons is, hoe om ons te kontak en wat om te doen as jy ‘n advertensie in Die Bronberger wil plaas.

Die aanlyn besigheidsgids-afdeling van dié webwerf gaan begin om lyste op te stel van alle ondernemings in ons omgewing. Loop jou septiese tenk oor op ‘n Sondagoggend? Wil jy graag sien hoeveel perdryskole daar in ons gebied is? Wil jy weet of daar ‘n plek naby jou is waar jy gou bakstene of staal kan gaan koop? Of dalk is jy op soek na eiendom in ons kontrei. Dan sal die besigheidsgids die plek wees om te soek.

Ons nooi alle ondernemings in die Bronberg-gebied uit om deel te word van dié gids. Ons begin die gids met ’n paar gratis voorbeelde van die verskillende afdelings. Al wat dit jou sal kos om in die gids gelys te word is ‘n aansluitingsfooi van R100 wat jou onderneming se naam en kontakbesonderhede onder ‘n spesifieke afdeling sal laat verskyn. Dan is daar elke maand hernuwingsfooie van R50 betaalbaar.

Die Bronberger se webwerf maak ook voorsiening vir ‘n afdeling wat net vir geregistreerde lede sal wees. Dié afdeling, wat soos ‘n ‘blog’ werk, gaan stadig begin groei soos nuwe projekte posvat en die doel is om ‘n meer onmiddellike forum aan die gemeenskap te bied, siende dat Die Bronberger slegs een maal ‘n maand op straat verskyn.

Mense kan hier inligting deel met mekaar, help om mekaar te waarsku oor gevaarlike padtoestande, heiningdrade wat geknip is, brande wat uitbreek, verdagte voertuie in die omgewing en selfs om inligting te verskaf oor verlore diere.

Dié afdeling poog nie om enige bestaande SMS-gebaseerde gemeenskapsnetwerke te vervang nie, maar om inligting in ‘n breër gemeenskapsverband te deel. Die verskeie gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe, brandbestrydingsorganisasies en eienaarsverenigings is welkom om hier te vertel wat hulle doen.

Hier sal ons ook graag hulp en inligting aan die gemeenskapspolisiëringsforum en die liefdadigheidsorganisasies in ons omgewing wil bied en skakels verskaf aan dié forums en organisasies se eie webwerwe. Dit is ook die ideale plek om inligting oor nuwe ontwikkelings, infrastruktuur en Kungwini wetgewing te verskaf.

As jy wil deel word van die besigheidsgids, stuur ‘n e-pos na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . Vir meer inligting, besoek die webwerf by www.bronberger.co.za. Hou hierdie spasie dop vir nuwe verwikkelings op Die Bronberger se eie webwerf. Die webwerf word onderhou deur www.bronbergaanlyn.co.za. Vir meer inligting kontak Jan Coetzee by 083-460-0031.

 

© 2024 Die/The Bronberger