Hy sal hare uit jou kop kom pluk PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 27 August 2012 19:16
Untitled Document

Al ooit gehoor van ‘n voël wat so vreesloos is dat hy sommer hare uit jou kop sal pluk om sy nes mee uit te voer? Dit is dieselfde ouens wat roofdiere in groot swerms aanval; hulle wat nie sal huiwer om neer te swiep om jou te verdryf van hulle nessie af nie – al is dié nessie in jou huis se dak gemaak.

Ons praat van die rooivlerkspreeu. Hulle het die afgelope paar dekades begin stede toe trek en broei graag in solders, op balkonne en enige openings rondom huise se dakke. Rooivlerkspreeus hou van hoë geboue en huise omdat dit soortgelyk is aan die rotsagtige klowe en kranse in hulle natuurlike habitat.


‘n Mannetjie rooivlerkspreeu

Voer
Soos die ander spreeus is dié ou ‘n opportunistiese omnivoor en vreet ‘n wye verskeidenheid sade, vrugte, insekte en nektar van plante wat sterk genoeg is om die voël se gewig te dra. Hulle steel ook kuikens van seker voëlspesies uit die nes en aas dooie diere en oorskietkos.

In landelike gebiede sal jy gereeld sien hoe ‘n rooivlerkspreeu op vee of wilde diere, van klipspringers tot kameelperde, sit en parasiete soos bosluise van hulle af vreet.

Voorkoms
Die rooivlerkspreeu, Onychognathus morio, word die maklikste van ander spreeus onderskei deur sy helder kastaiingbruin slagvere en donker oë. Hulle is 27-30 cm lank.

Mannetjies en wyfies kan uitmekaar geken word deur die kleur van hulle koppe. Die mannetjie het ‘n glanserige blou-swart skynsel terwyl die wyfie se kop en bo-bors ‘n eenvormige asgrys kleur is. Onvolwassenes lyk soos die mannetjie, maar met ‘n donker kop.

Dié voëls het ‘n verskeidenheid fluitroepe, maar die bekendste een is die helder ‘tjerleeeoo’-roep.


Die kastaiingbruin slagvere is veral sigbaar in vlug
Foto’s: Wikipedia

Broei
Rooivlerkspreeus is territoriaal, aggressief en onverdraagsaam in die broeiseisoen en sal nie huiwer om ander spesies, insluitende mense en troeteldiere, aan te val nie. As hulle nie broei nie is hulle baie sosiaal en kom in groot swerms van tot 500 voëls voor.

In die somer, van September tot Maart, vermy broeipare ander rooivlerkspreeus. Die paartjie is monogaam en broei twee keer per seisoen. Die nessie word deur beide mannetjie en wyfie gebou en bestaan uit ‘n groterige platform wat uit takkies, gras en wortels gebou word en met modder vasgeheg word. Die binnekant word uitgevoer met fyner materiaal wat selfs mensehare insluit. Die nessie word tipies op ‘n rots, ‘n lysie of dakbalk geplaas.

Die wyfie lê een tot vyf, gewoonlik drie, blou eiers met rooibruin vlekkies op. Die eiers neem 13 tot 14 dae om uit te broei en die kleintjies bly ‘n verdere 22 tot 28 dae in die nes.

Kuikens word deur albei ouers gevoer op ‘n dieet van insekte. Die eerste broeisel van die seisoen word gewoonlik so twee weke nadat hulle begin vlieg, weggejaag, maar die tweede broeisel kan vir vyf tot ses weke daarna nog van die ouers afhanklik bly.

 

© 2019 Die/The Bronberger