Niemand staan pa vir stinkspul by Mooikloofrif PDF Print E-mail
News - Aktueel
Sunday, 22 July 2012 05:45
Untitled Document

Wie se probleem is die stinkspul van lekkende riool rondom Mooikloofrif? In dié stadium wil niemand – nie die landgoed, ontwikkelaars of Tshwane Metroraad – verantwoordelikheid vir ’n probleem aanvaar nie. Intussen hou dit ‘n ernstige gesondheidsgevaar vir duisende mense en diere in.

Mooikloofrif se riool pla omliggende inwoners, ondernemings en selfs motoriste wat in Garstfonteinweg-verlenging verby ry, jare reeds.

In Maart verlede jaar het ons berig dat die probleem vererger het toe die pompstasie finaal ingegee het en rou riool langs Garstfonteinweg begin opdam het en onder Mooikloof Landgoed se mure deur tot in die Zwavelpoortspruit begin stroom het.

Die onbehandelde riool vloei met die Zwavelpoortspruit tot in die Pienaarsrivier.


Mooikloofrif se riool stroom langs Garstfonteinweg-verlenging af
Foto: Gretchen van der Merwe

Volgens Mooikloofrif se landgoedbestuurder, Theo van Rensen, is dié pompstasie op ‘n servituut gebou en is dus nie Mooikloofrif se verantwoordelikheid nie, alhoewel hulle aanhou om die pompe reg te maak.

Toe Mooikloofrif nog onder Kungwini Plaaslike Munisipaliteit geval het, het Theo probeer om hulle hulp te kry met die regmaak van die pompstasie. Kungwini-amptenare het egter aan Theo gesê dat die ontwikkelaars, M&T, nooit die pompstasie aan Kungwini oorhandig het nie. Dié rioolstasie was nie op Kungwini se boeke nie, en was nie hulle probleem nie.

Tegniese personeel wat die pompstasie vroeër reggemaak het, het vir Theo gesê dat die stasie verkeerd ontwerp is en sal aanhou breek. Hulle het verlede jaar gesê dat die stasie heeltemal oorgedoen moet word en Kungwini het glo onderneem om die herontwerpte pompstasie oor te neem.


Mooikloofrif se riool
Foto: Gretchen van der Merwe

Op 10 Maart verlede jaar het PMJ Ramothwala, wat toe ingestaan het as Kungwini se direkteur van infrastruktuurdienste, egter ’n brief aan Theo geskryf waarin hy gesê het dat die munisipaliteit tyd nodig het om na te vors wie wettiglik vir die pompstasie verantwoordelik is.

Meer as jaar later blyk dit dat geen instansie nog verantwoordelikheid vir die pompstasie aanvaar het nie. Intussen stroom rou riool na die Zwavelpoortspruit en beland in omgekrapte hoewe-eienaars se damme voor dit verder pad vat Pienaarsrivier toe.

 

© 2019 Die/The Bronberger