Uitbreiding vir Cullinan en Rayton PDF Print E-mail
News - Aktueel
Sunday, 22 July 2012 05:40
Untitled Document

Cullinan en Rayton kry uiteindelik ‘n ontwikkelingsraamwerk. Die Tshwane Metroraad se Stadsbeplanning- en ontwikkelingsafdeling het vernuwingsplanne vir dié twee strategiese dorpies aan burgemeester Lekgotla voorgelê.

Aksieplanne vir Rayton sluit die ontwikkeling van ‘n distriksplan in om voorsiening te maak vir die uitbreiding van sake- en industriële geriewe. Die plan moet teen September gefinaliseer word.
Die raad wil woongebied-uitbreiding in ‘n noord-oostelike en noordelike rigting in Rayton aanmoedig.

Mense in die bestaande 355 informele strukture rondom die stortingsterrein sal elders hervestig word.
Die plan is om die ou munisipale stortingsterrein dan te rehabiliteer en om die moontlikheid van kleinboerdery, soos organiese boerdery en akwakultuur te ondersoek.


Die stuk grond neffens Cullinan se sakesentrum, waar ‘n formele taxi-staanplek gebou gaan word

Die ideaal is dat dié landbouprojek sal help om die gemeenskap in die informele nedersettings rondom Rayton te help onderhou.

Die raad wil terselfdertyd die geriewe by die munisipale kantore konsolideer en uitbrei om bykomstige afdelings soos sosiale dienste en sport en ontspanning te vestig.

Die noordelike en suidelike ingange na Rayton op die R515 roete gaan opgegradeer word en die openbare ruimte rondom die R515 roete gaan effektief onderhou word. Daar is reeds begin om duidelike roete-borde op die R515 aan te bring.


Rayton se sakesentrum uit ‘n arendsoog

Cullinan
In Cullinan word beoog om ‘n kleindorpse distriksplan in werking te stel. Die raad wil ‘n kombinasie van sake-, kommersiële en ligte industriële ondernemings noord-oos en suid-oos van die R515-R513 kruising (Fourways) te vestig. Dié plan moet in Augustus gefinaliseer word.

Toerisme
‘n Toerismeplan en bemarkingstrategie vir Cullinan word uitgewerk om die dorpie se toerismepotensiaal uit te brei. Toerisme-inisiatiewe deur die private sektor word aangemoedig, duidelike toerismeborde gaan opgesit word en die vier hoofingange tot die dorp op die R515 en R513 gaan opgegradeer word.

Aanvraag
Die aanvraag vir nuwe behuising in Refilwe, wat op omtrent 600 wooneenhede geskat word, gaan in Lewzene Landbouhoewes in die noord-oostelike deel van die R513/R515-kruising geakkommodeer word.

Die plan is ook om ‘n amptelike taxi-staanplek naby die dorp se bestaande toerisme- en sakesentrums te bou. Die perseel wat daarvoor geïdentifiseer is, word reeds as informele taxi-staanplek gebruik.

‘n Vorige poging onder die ou bedeling van Metsweding om die taxi-staanplek op te gradeer, het skipbreuk gelei toe sowat R5 miljoen wat daarvoor bewillig is, voete gekry het.

 

© 2019 Die/The Bronberger