Sy is altyd groter as hy Print E-mail
News - Ons Omgewing
Sunday, 22 July 2012 07:37
Untitled Document

Die kleinsperwer is een van die min voëlsoorte waar die wyfie groter is as die mannetjie. Verder lyk die twee eners. In die broeiseisoen kan die mannetjie egter uitgeken word as die een wat die vreemde dans uitvoer.

Hy sal op ‘n takkie gaan sit, sy lyf horisontaal uitstoot en sy kop van die een kant na die ander begin swaai. Dit moet vir die wyfie indrukwekkend wees, want as sy eers ‘n maat gekies het, behou sy hom lewenslank.

Die mannetjie maak ’n hoë ‘pie-pie-pie-pie-pie’-geluid in broeiseisoen, terwyl die wyfie ’n sagter ‘kieeu-kieeu-kieeu’-roep het.

Die kleinsperwer, Accipiter minullus, is 23-28 cm lank. Volwassenes word van die gebande sperwer onderskei deur 'n wit kruis en twee wit kolle op die bo-stert. Hulle lyk die meeste soos die Afrikaanse sperwer mannetjie, maar het ’n wit kruis en ’n geel, nie ‘n grys washuid nie.


‘n Kleinsperwer wyfie met kuikens in die nes
Foto: Clem Haagner

Prooi
Dié voëls vreet meestal klein voëltjies, soos vinke, tinktinkies, suikerbekkies, sangers en wewers; maar sal soms insekte, paddas, klein reptiele en vlermuise vreet.

Hulle het baie digte plantegroei nodig om hulle prooi voor te lê en doen die meeste van hulle jagwerk vanaf ‘n tak waar hulle in digte blare wegkruip om hulle prooi onverhoeds te kan vang.

Die kleinsperwer kom voor in savanne, woude en boswêreld en het aangepas by uitheemse plantasies. Hulle soek hoë bome om ‘n nes hoog bo die grond te bou en kies dikwels uitheemse bloekoms, die Eucalyptus canescens-spesies, en vaalpopuliere, Populus canescens, as nesmaak plekke.


‘n Onvolwasse kleinsperwer
Foto: Oom Kosie

Broei
Die nes word hoofsaaklik deur die wyfie gebou. Hy bestaan uit ‘n platform van klein takkies wat met groen blare uitgevoer word in die vurk van ‘n hoë boom. So ‘n nes is gewoonlik groter as wat ’n mens sal verwag en hulle gebruik dikwels dieselfde nes in opeenvolgende broeiseisoene of bou ’n nuwe nes naby dié van ‘n vorige jaar. Kleinsperwers kan ook ouer neste van ander voëls, soos die kleinsingvalk of gebande sperwer, gebruik.

Die broeiseisoen is van September tot Desember, met ‘n piek in Oktober, en in dié tyd verdedig die ouers die nes baie aggressief. Een tot drie eiers word gelê wat 32 dae neem om uit te broei. Beide ouers sit op die nes, maar die wyfie doen so 80% van die broeiwerk terwyl die mannetjie haar voer.


As die kuikens eers uitgebroei het, sit die mannetjie nooit weer op die nes nie. Hy is te besig om kos aan te dra en ander voëls uit die omgewing weg te jaag.

Die kuikens verlaat die nes ná 25-27 dae, maar bly vir nog ongeveer ‘n jaar in hulle ouers se gebied.
 

© 2020 Die/The Bronberger