PDF Print E-mail
News - Aktueel
Sunday, 22 July 2012 05:16
Untitled Document

Die gevaarlike kruising van Garstfonteinweg-verlenging en die Bapsfontein-Bronkhorstspruitpad (R25) het in Junie nog drie lewens geëis. Volgehou vertoë deur inwoners en ouers met kinders in die Witpoort Laerskool om die kruising veiliger te maak, val jare reeds op dowe ore.


Karen Fourie en haar kinders, Lise-Marié en Matthieu, het in dié Opel Astra op die kruising van Garstfonteinweg-verlenging en die Bapsfontein-Bronkhorstspruitpad verongeluk
Foto: Brendan Croft

Christo Fourie se hele gesin - sy vrou Karin, negejarige seun Matthieu en 12-jarige dogter Lise-Marié - is op 15 Junie op slag dood toe ‘n wit bakkie hulle Opel Astra getref het. Die Opel het onder ’n vragmotor op die R25 beland.

Twee insittendes van die bakkie en vragmotor is met ernstige beserings na die Pretoria-Oos-hospitaal geneem.

Karen het haar kinders vanaf die Doxa Deo-private skool in Olympusweg na die Laerskool Witpoort gevat waar hulle aan ‘n landloop-byeenkoms sou deelneem.

In April het ons berig dat inwoners beswaar maak teen die gevaarlike kruising van Garstfonteinweg-verlenging en die R25. Dit word bereken dat 10 000 voertuie daagliks reeds van die R25 gebruik maak.


Matthieu


Lise-Marié

Die instelling van die E-tolsisteem op snelweë kan dié verkeer glo met 40% verhoog.

In ‘Gerugte oor ‘petrolplaas’ het inwoners op agterpote’ het ons berig dat daar op die enkelbaan-pad geen voorsiening gemaak is vir voertuie wat in of uit die R25 wil draai by die kruising met Garstfonteinweg-verlenging nie.

Johan Fouché, hoof uitvoerende beampte van MBT, het gesê dat MBT aansoek gedoen het om ‘n wegsnybaan uit die R25 te bou wat makliker toegang tot die vulstasie op dié kruising sal bied.

 

© 2019 Die/The Bronberger