Vliegtuigbefoeterde bierplek PDF Print E-mail
News - Vreethans
Sunday, 22 July 2012 05:40
Untitled Document

As ek nou reg onthou, kan ‘n ou sewe of agt soorte plaaslik-gebroude bier by Cullinan se Cockpit Brouhuis beproef. Jy kry sewe gratis skeute in sewe glasies vir proe. En dan kan jy jou gunsteling of gunstelinge per glas uit-die-vat-getap geniet.

Een van die vriendelike, kundige kelners of broumeester André self, staan byderhand om jou oor die fynere, dinge van elke brousel in te lig: Genoeg inligting oor subtiele kruie-, bessie-, ‘bisket-‘ en selfs ‘bananasmake’,  en oor pilsener-mout en adellike hops om enige wynsnob op sy neus te laat kyk.

Omdat Andre lugvaartbefoeterd is, dra sy bier, soos sy plek, name wat met vliegtuie te doene het. Waar jy buite in die voortuintjie van die ou klipskakelhuisie in Cullinan se Oaklaan sit, sal jy kan proe aan biere soos Spitfire Pale Ale (van Engelse aard), Mustang Ale (Amerikaans) en Fokker Weis, wat vernoem is na ‘n Duitse vliegtuig – regtig.


Cockpit Brewhouse in Cullinan se Oaklaan

Die een wat die heel gunstigste tot my smaakpapille spreek, heet Helles Belles. Ek glo dié naam het ook ‘n vliegtuigverbintenis, maar ek het vergeet om te vra. Ek weet dis een van Cockpit se biere wat ‘n prys op die onlangse nasionale bierkampioenskappe op Clarens gewen het. Helles Belles het ‘n pilsener-mout basis met ‘n fris, droë, kruidagtige afronding – kyk net so, die nuutgevonde kennis van ‘n biersnob!

By Cockpit kan jy ook enkele mengeldrankies (cocktails) met ‘n bierbasis geniet, of kies uit ‘n verskeidenheid enkelmout-whiskies. Hulle hou ook ‘n beperkte verskeidenheid, billikgeprysde wyn en ‘n redelike keuse van ander harde- en sagter hout aan, En, o ja, het ek al gemeld dat jy ook aldaar kan loop eet?

My naam is immers nie Drinkhans nie en ons is eintlik oorspronklik op ‘n onlangse, lui Sondag na Cullinan se Cockpit toe om ‘n ietsie vaster vir die innerlike te beproef.

André se bierplek spog met ‘n uitgebreide en interessante spyskaart. Onder die vier voorgeregte het ‘Gerda Weldhagen’s pastry squares’ vir my belowend gelyk. As ek dit sou bestel, sou ek - vry vertaal uit die Engels - ‘n ligte en donserige deeg-vierkant, bedek met gesmelte Deense bloukaas en vyekonfyt gekry het. Ek het nie, al wou ek. Dit sou my R50 uit die sak gejaag het.

As ek een van die drie slaaie moes kies, sou dit die oondgebraaide peer-en-bloukaas-slaai wees. Klink amper na my soort slaai. Ook dit sou R50 gekos het.

By nabetragting sou ek etlike van die hoofgeregte uit die aansienlike hoeveelheid keuses, of selfs een van die vierstuks ‘mandjies’ kon kies en ek sou dit in alle waarskynlikheid geniet het.


Meesterbrouer, André, verduidelik die fynere bates van sy wenbier

Die ou hier neffens my het byvoorbeeld die ‘beef and stout pie’ bestel en ek kon sien hoekom hy dit so geniet het en vir almal wat wou hoor, vertel het hoe lekker dit is. Hy het R90 daarvoor betaal. En dis nie stout soos in ‘naughty’ nie, ou Dries. Dis stout soos in donker bier.

Ek het gesien hoe ander besoekers die ‘rib eye steaks’ op tuisgebakte suurdeegbrood, of met aartappelwiggies of kapokaartappels en ander bykossies geniet. Dit kos ook hier om en by die R90. Of jy kan vis en skyfies of calamari en goeters, of ‘bangers en mash’, of wat nog kies teen effe minder.

Die vriendelik kelner (het ek al gesê die kelners van Cockpit is van die beste wat ek nog teëgekom het?) het ongelukkig vir ons die ‘specials’ van die dag met soveel geesdrif voorgedra, dat ek die dag se spesiale lamskerrie bestel het. En dit was ‘n foutjie.

Ek weet sommige ouens met sterk kakebene verkies ‘chewy’ kosse, maar vir my smaak moet enige bredie - en veral een wat hom as ‘n kerriekos wil voorhou – maklik en sag op die koukake wees. En sy smaak moet tot in die binneste kern van die kosse loop. Stadig en deeglik moet hy deurgekook wees.

Cockpit se ‘special’ kerrie op dié dag was bloot taai en hoewel die kerrie redelik smaakvol was, was dit soos ‘n opgooisous wat nie tyd gekry het om te trou met die vleis nie. Die sambaal en veral die beetblatjang wat saamgekom het, was uitstekend. Die ‘special’ het ook R90 gekos.

Metgesel het die dag se ‘special’ uiesop bestel en dit het haar gelukkig gemaak. Ryk en oordadig gelaai met dit wat die sop sy naam gee, het dit saam met ‘n gekaasde suurdeegbroodjie ‘n heerlike winterdagmaaltyd verskaf teen net R30.

 

 

© 2019 Die/The Bronberger