Oorlog sonder groei Print E-mail
News - Kommentaar
Sunday, 22 July 2012 06:58
Untitled Document

Die Bronnie móét groei. Die vraag na Die Bronberger by bestaande verspreidingspunte het in die afgelope jare in só ‘n mate toegeneem, dat oorlog of iets ergers dreig om uit te breek as ons nie nou vinnig ‘n plan maak nie. En daarby is die tyd oor-ryp om die vlerke effe wyer te sprei na nuwe gebiede waar die Bronnie tot dusver glad nie beskikbaar was nie.

Hierdie uitgawe is die eerste met ‘n verhoogde drukoplaag. Ons begin deur in Julie en Augustus ‘n duisend ekstra te druk en om vanaf ons tiende verjaardag-uitgawe in September vanjaar, 2 000 meer te versprei.

Die ekstra eksemplare sal gebruik word om meer tydskrifte in die vinnig groeiende gebiede van Hazeldean en Faerie Glen beskikbaar te stel, meer by sekere bestaande verspreidingspunte elders neer te sit en nuwe gebiede verder oos, suid-oos en noord-oos van ons huidige verspreidingsgebied te bereik.

Tien jaar
In September vanjaar word Die Bronberger tien jaar oud. Dit op sigself is ‘n uitsonderlike mylpaal vir enige onafhanklike publikasie. In dié geval ‘n familiesaak wat sonder die steun van enige groot publikasiegroep, organisasie of politieke party en sonder ‘n verkope-inkomste uitgegee word. Ons is oneindig dankbaar vir ‘n baie besonderse gemeenskap, lesers en adverteerders, wat dit vir ons moontlik gemaak het en ons voel ryklik geseënd.

Van ons heel eerste uitgawe af, in September 2002, was dit duidelik dat die aanvraag vir dié eiesoortige publikasie in die baie spesiale Bronberg-gebied wat dit bedien, geweldig groot was. In die begin het dit soms behoorlik broekskeur gegaan, maar genadiglik het adverteerders metterwoon begin agterkom dat ons lesers daardie ondernemings ondersteun wat in hulle gunsteling publikasie adverteer.

Om in tien jaar net ‘n enkele tariefverhoging van tien persent te hê, vat gedoen te word. Ons het dit vermag deur verhoogde kostes telkens te delg uit verhoogde advertensievolumes eerder as om ons advertensietariewe aan te pas.

Verhogingtjie
Die groter drukkers- en ander koste wat met die groter oplaag gepaard gaan en die feit dat advertensievolumes ietwat gestagneer het, dwing ons ongelukkig om in September ons tweede tariefverhoging in te stel.

Ons hou dit so laag as wat menslik moontlik is en adverteerders wat vooruit besprekings gedoen het, sal nog teen die ou tariewe kan adverteer. Ons glo dat die ekstra voete wat die verhoogde oplaag oor die drumpel sal bring, dubbel en dwars sal vergoed vir die klein verhogingtjie.

 

 

© 2020 Die/The Bronberger