Bronbergse gemeenskap span saam teen misdaad PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 25 June 2012 21:23
Untitled Document

Die Conserv-gemeenskappe van die Pretoria-oos hoewegebied sowel as Welbekend en Rayton/Cullinan het op Saterdag 2 Junie ‘n misdaadvoorkoming-aksie, Blitz 101, gehou.

Ongeveer 300 lede van die Conserv-gemeenskap, 135 patrollie-voertuie, 20 polisie-voertuie met 50 geregsdienaars van drie verskillende Polisie-distrikte, naamlik Cullinan, Boschkop en Welbekend, twee ligte vliegtuie, twee helikopters en 20 perderuiters het aan die aksie deelgeneem.


Die beheerkamer wat vir Blitz 101 opgestel is. Van links na regs is: Ettiene Koekemoer, Petro Lemmer, Mariaan Nel en Trevor Roberts

Gemeenskapslede het 12 uur op voorafbepaalde roetes begin ry en het almal 3 uur by Rhino-park op die R515 bymekaargekom waar ‘n bring-en-braai ná die verrigtinge gehou is. Die hoofdoel van dié aksie was misdaadvoorkoming deur maksimum sigbaarheid in die omgewing. Terselfdertyd is kommunikasienetwerke, aksieplanne, gebied-sekuriteitsplanne en samewerking tussen die verskeie sektore in geval van kode rooi insidente, getoets.


Perderuiters neem hulle plek tussen die vliegtuie en voertuie in

Boschkop
In April 2010 het die georganiseerde Conserv-gemeenskappe van die groter Boschkop-gebied in samewerking met die plaaslike SAPD ‘n Gebied-Blitz gehou waaraan 177 voertuie en ‘n helikopter deelgeneem het.

Vanjaar se Blitz het vir die eerste keer die Welbekend- en Rayton-gebied sowel as die Cullinan en Welbekend-polisiestasies ook betrek. Lt.kol. Gladys Mthimunye, stasiebevelvoerder van die Cullinan-polisiekantoor wat ook self aan die Blitz 101 deelgeneem het, het dié inisiatief verwelkom. Gladys het gesê wanneer die gemeenskap en die polisie saamstaan, is daar nie enige plek vir misdadigers nie.


Patrollie-voertuie begin in ‘n stofwolk by die eindbestemming aankom

Getoets
Volgens Conserv se Trevor Roberts het die SAPD stasiebevelvoerders van beide Boschkop en Cullinan versoek dat dié Blitz 101 ‘n jaarlikse instelling moet word.

Trevor sê dat die dag goed afgeloop het, alhoewel patrollielede op verskeie vlakke getoets is. Hulle moes motorongelukke, ‘n bergfiets-botsing, drie veldbrande, en ‘n asma-aanval hanteer.

‘n Besoeker aan Rhino Park, wat niks met Blitz 101 te doene gehad het nie, het klaarblyklik ‘n asma-aanval gehad. Conserv se noodhulpspanne het hom te hulp gesnel en mond-tot-mond asemhaling is vir 45 minute toegepas. Dié motorfietsryer is ten spyte van alle hulp oorlede en die Avbob voertuig het laatmiddag opgedaag om sy lyk te gaan haal.

Die Pretoria-oos deel van Conserv het in 2005 in die Donkerhoek-gebied ontstaan om noodgevalle van enige aard op ‘n georganiseerde wyse te hanteer.

Conserv struktureer, administreer en stel kommunikasienetwerke daar in gemeenskappe.


Polisievoertuie en -beamptes van Boschkop, Welbekend en Cullinan het deelgeneem

Werkers
Hulle maak inligting bymekaar en analiseer dit, stel databasisse op van, onder andere, insidente, werkers en verdagte voertuie in ‘n gebied, en bestuur pro- en reaktiewe aksieplanne. Hulle koördineer kleurkode insident strategieë, naamlik die YOR Plan, en bied vaardighede en kennis deur opleidingsprogramme. Conserv bied nie net bystand met misdaadinsidente nie, maar ook met rampbestuur op all vlakke, soos voertuig-ongelukke, weghol veldbrande en mediese noodgevalle. Hulle hoofdoel is om lewens te red en om ‘n gemeenskap van ‘n sagte na ‘n harde teiken te verander.

Vir meer inligting, kontak Trevor Roberts by 083-454-6530.


Dié kinders het op die dak stelling ingeneem om die verrigtinge beter te bekyk

 
 

© 2019 Die/The Bronberger