PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 25 June 2012 21:19
Untitled Document

Die Elandshoek/Nooitgedacht-gemeenskap net buite Rayton het op 7 Junie beswaar aangeteken teen die toekenning van ’n wysiging aan Delfsand se mynregte.

Delfsand het aansoek gedoen om hulle myngebied te vergroot. Om ‘n mynlisensie daarvoor te kry, moes Delfsand glo eers ‘n watergebruiklisensie kry. Die Departement van Minerale Hulpbronne het Delfsand se aansoek egter glo sonder ‘n geldige waterlisensie goedgekeur.

“Delfsand beskik nie oor ’n watergebruiklisensie nie en die Departement van Waterwese het ‘n kriminele klagte teen die maatskappy gelê vir die oortreding van die Nasionale Waterwet, Wet No 36 van 1998,” het Reline Badenhorst, die omgewingsake voorsitter van AfriForum se Rayton/Cullinan-tak, gesê.

Volgens Reline is die gemeenskap besorg oor die roekelose manier waarop Delfsand sy mynaktiwiteite sedert die oorname deur Infrasors in 2007 bedryf. Die gemeenskap sê dat die myn ’n geruime tyd betrokke is by verskeie onwettighede, soos onwettige mynbou-aktiwiteite in ’n vleiland en in ’n standhoudende rivier, wateronttrekking uit ’n natuurlike fontein sonder ’n lisensie, en proefskietwerk op ’n kode twee-rif sonder dat ’n geohidrologiese studie vooraf gedoen is.

“Delfsand het in 2011 opdrag van die Departemente van Waterwese en Minerale Hulpbronne gekry om die betrokke vleiland te begin rehabiliteer. Geen rehabilitasie is egter nog gedoen nie,” sê Reline.
Volgens Trevor Robinson, hoof uitvoerende beampte van Infrasors Holdings Limited, die sambreel maatskappy waaronder Delfsand val, is dié aantuigings verdraai, ongegrond en vol verskuilde agendas.


Die voor wat gegrou is om vuil water uit die slykdam na die vleiland te voer is in Februarie afgeneem

Betoog
In Januarie 2011 het Die Bronberger berig dat inwoners in die Rayton-omgewing betoog het oor hulle waterbronne en ‘n vleiland wat vernietig word. In Oktober 2011 het Die Bronberger berig dat dieselfde inwoners Delfsand daarvan beskuldig dat hulle sonder ’n wettige waterlisensie water uit ’n fontein op Pienaarspoort gedeelte 55 pomp. Delfsand het glo vir die Departement van Waterwese laat verstaan dat hulle water uit dié fontein gebruik om die grondpaaie stof-vry te hou.

Die gemeenskap het op 1 Oktober 2011 ’n klagte oor Delfsand se gebruik van fonteinwater by die Cullinanse Polisiestasie ingedien. AO Roux was by die fontein terwyl daar water gepomp is sonder enige voertuie in sig.

Die fontein op gedeelte 55 Pienaarspoort, wat Infrasors se eiendom is, lê in ‘n vleiland en voed die Edendalespruit. Volgens inwoners word die besoedelde water laer af in die vleiland en spruit uitgelaat en het fonteine en strome hoër liggend as die fontein sowat ses jaar gelede al heeltemal opgedroog.

Infrasors
In Oktober verlede jaar het ons berig dat Infrasors se Trevor Robinson gesê het dat die myn seker maak dat hy die relevante wetgewing gehoorsaam.

Hy het verduidelik dat die myn aansoek gedoen het vir ‘n uitbreiding na die noord-oostelike deel van sy myngebied en gesê dat die vereiste studies rakende ekologie, argeologie, vleiland en geraas gedoen is en ‘n rehabilitasieplan deel van die proses is. Dit sluit ook ‘n openbare deelnameproses in waaraan die gemeenskap en beheerliggame deelneem en waarop die myn toe reeds terugvoering voorsien het.

Trevor het gesê dat verskeie spesialis studies uitgevoer is om die impak op stormwater, bo- en ondergrondse waterbronne vas te stel. Dié studies vorm die basis van ‘n geïntegreerde afvalwater bestuursplan wat by die Departement van Waterwese ingedien is.

Hy het gesê dat die departement ‘n direktief vir die myn uitgereik het om sekere aktiwiteite duideliker te maak, terwyl die geïntegreerde watergebruik lisensie gefinaliseer word.


‘n Lugfoto van Delfsand

Direktief
Die direktief wat in Junie 2011 deur Waterwese aan Delfsand uitgereik is, het onder andere gestipuleer dat die vleiland gerehabiliteer moet word en dat die uitvloei van die myn se slikdamme na die Edendalespruit gestaak moet word. Inwoners sê dat Delfsand bloot die posisie van die uitvloei geskuif het deur vore te grou.

Volgens inwoners is die toestand van die vleiland vandag nog meer kommerwekkend as verlede jaar. Hulle sê Delfsand redeneer dat rehabilitasie nie nodig is nie, omdat die gebied nooit ‘n vleiland was nie.
Inwoners sê ook dat Delfsand steeds water uit die fontein se kuil pomp en vir Waterwese vertel dat dit vir stofbeheer op die paaie is. Intussen is die volumes wat uitgepomp word glo so groot dat die kuil opdroog, plante besig is om te verdroog en alle lewe weg van die vleiland beweeg.

Volgens inwoners het die volume water van die Edendale Spruit met ongeveer 80% gedaal en die besoedelde water benadeel die inwoners van Mamelodi asook die water van Roodeplaatdam.

 

© 2019 Die/The Bronberger