Dodelike bakterie by tehuis van buite-bron af PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 25 June 2012 21:18
Untitled Document

Dit is amptelik. Die Shigella-bakterie wat aan vier sterftes by Paul Jungnickelhuis gekoppel kon word, is van buite af ingebring. Die bakterie het nie in die tehuis ontstaan nie.

Kungwini Welsynsorganisasie, waaronder Paul Jungnickelhuis val, het dié amptelike terugvoer van die Departement van Gesondheid ontvang ná ‘n ondersoek oor die Shigella-uitbraak in April by die tehuis. Die departement kon egter nie die buite-bron van besmetting identifiseer nie.

Die Shigella-bakterie veroorsaak koors, maagkrampe, naarheid, braking en los stoelgang wat soms bloed en mukus bevat. Die bakterie kom in ontlasting voor en kan in die mond beland, as ‘n pasiënt nie sy of haar hande was nie.

Die departement se verslag dui ook ‘n indeks-pasiënt aan wat die eerste een was wat ‘n los stoelgang gehad het. Sy is aanvanklik in ‘n provinsiale akademiese hospitaal opgeneem en weer ontslaan sonder dat Shigella geïdentifiseer is.

Dr Juno Thomas, hoof van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS), was deel van die span wat die Shigella-uitbraak by die tehuis ondersoek het. Sy het die manier waarop die uitbraak hanteer is deur die Paul Jungnickelhuis se personeel, komplementeer. Dr Thomas se finale verslag oor hoe die tehuis die Shigella-uitbraak hanteer het, gaan in die toekoms as ‘n praktiese model gebruik word om personeel by NIOS op te lei om ‘n uitbraak van aansteeklike siektes te beheer en pasiënte te isoleer sonder duur en uitgebreide hulpbronne.

Die Departement van Gesondheid se verslag noem ook dat Shigella-insidente nie net by die Paul Jungnickelhuis plaasgevind het nie. Verskeie insidente op ander plekke in die groter Pretoria-distrik is ook gerapporteer.

Thea du Bruyn, direkteur van die Kungwini-welsynorganisasie waaronder die tehuis val, sê dat die organisasie die vrywilligers, skenkers en kerke in die gemeenskap vir hulle ondersteuning in die traumatiese tyd wil bedank.

 

© 2019 Die/The Bronberger