Kragteloos op Bronkie se Stoep PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 25 June 2012 21:10
Untitled Document

As jy op die kruising by Tannie-Pop-op-die-Hoek se watergat is, is dit net 20 km met die ou pad langs tot op Bronkhorstspruit. Dis ‘n koue, winderige wintervoormiddag. Die soort dag wat vir boontjiesop of bredie gemaak is - of vir kerrie-afval. Veral vir kerrie-afval.

Ek onthou dat ek ‘n hele aantal jare gelede by Bronkie se Die Stoep weggelê het aan die heerlikste skaapafval en 20 kilometer is mos net ‘n klipgooi ver, al voel dit heelwat verder met die nou, vragmotorbesaaide ou teerpad saam. Ons het met die snelweg, ‘tol-en-all’ teruggekry.

In Bronkie word ons deur een reuse verkeersknoop begroet. Dit is Saterdagoggend en die dorp se verkeersligte werk nie. ‘n Hele gemors in die hoofstraat. Die hele dorp se krag is trouens af. Die slegte nuus is dat Die Stoep se krag natuurlik ook af is en dat ek nie kan afval kry nie. Ook nie beesstert of sop of bredie of enige ware winterkos nie. Net braaigeregte, sê die vriendelike kelner by die mooi ou huis wat ‘n kuierplek geword het. Niemand sit vandag op die stoep van Die Stoep nie. Te onplesierig en koud.


Die rustige ou huis wat Die Stoep huisves

Ons neem plaas in die voorkamer van die ou huis wat die rokers-eetkamer geword het. By ‘n regte ou eetkamertafel gaan ons sit op regte ou eetkamerstoele.

Ek kyk verlangend na die wintergeregte op die spyskaart wat my nie vandag beskore is nie en verwens vir Eskom oor ander redes as gewoonlik. Die afval sou my R81.00 uit die sak gejaag het en die beesstert ook. Die sop sou natuurlik heelwat goedkoper gewees het en ek sou dit met tuisgemaakte brood kon saam geniet. Ek wonder of hulle die bees-schnitzel met rooibosbessie en mozzarella sonder krag kan maak. Dit sou R90.00 gekos het, as hulle kon.

Die kelner beveel die burgers of die steaks aan. Dit kan hulle op die gasbraaier doen. Of die calamari vir iemand soos Metgesel, wat nie partydig is vir rooivleis nie. Sy bestel dit saam met ‘n botter-suurlemoensous en tjips. Al groente wat beskikbaar is, is spinasie. Metgesel geniet haar ete. Dit kos R75.


Die voorkamer met sy mooi komvenster en regte eetkamertafels

My amper-gaar kruisskyf (rump) kom teen die regte graad van gaarheid aan en is smaaklik, hoewel ‘n bietjie taai. Ek vermoed dit het net nog nie die regte graad van veroudering bereik nie. Dit kos R75 vir 300 g.

Die Stoep se spyskaart bied ‘n groot verskeidenheid met ‘n wye keuse van braaigeregte, seekosse en sewe vegetariese keuses. Ons het lekker in die ou voorkamer gekuier met die sonnetjie wat vertroostend deur die groot komvenster (bay window) geskyn het. Gelukkig werk die kroeg nie met krag nie en het rooiwyn nie ‘n koelkas nodig nie. Sonder musiek was dit stil en het dit my die gevoel van ouma se huis op ‘n Sondagmiddag gegee as die grootmense gaan dut het.

As ek weer lus kry vir afval en ons sit af na Die Stoep toe, bel ek eers om te hoor of die dorp se krag aan is en ek ry met die snelweg. Terloops, het jy geweet Bronkhorstspruit is die enigste Afrikaanse woord met ses konsonante in ‘n ry?

 

© 2019 Die/The Bronberger