Waterpype word uiteindelik vervang PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 25 June 2012 20:52
Untitled Document

Elsabé Maré

Cullinan se asbes-sement waterpype in Nuwe Dorp word uiteindelik vervang. Kontrakteurs is in Mei deur die Tshwane Metroraad aangestel om die netwerk pype tot bo teen die koppie te vervang.

Die ou pype het gereeld in die winter gebars en het vir groot ongerief en finansiële skade gesorg. Die nuwe UPVC-toevoerpype kan druk beter hanteer en die tegniese prosedure en stelselmatige beplanning waarmee die pype gelê is, het daartoe bygedra dat die stelsel teen middel Junie so te sê in plek was. Die ringtoevoere in Rangeweg, parallel met dié in die grootpad wat na Refilwe gaan loop, moet nog gelê word.


Waterpype word in Cullinan se Nuwe Dorp vervang

Teen einde Junie sal die druktoetse gedoen word om lekplekke op te spoor en reg te maak. Daarna sal blokke oorgeskakel word na die nuwe lyne.

Die proses het nie sonder opoffering van die inwoners gebeur nie; soms was die waterdruk te laag vir wasmasjiene of geysers om te werk en ander tye was daar glad nie water nie. Nuwe Dorp-inwoners sê dat dit gaaf sal wees as die hele proses klaar en verby is.

 

© 2019 Die/The Bronberger