Vrag laat opposisie saamwerk PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 25 June 2012 20:47
Untitled Document

Die vervoer van ‘n abnormale vrag van 4,7 m wyd en 14 m lank het bewys dat opposisie-maatskappye in ons kontrei kan saamstaan om mekaar te help.

Die vrag het uit 64 dakkappe bestaan wat deur Mica Kungwini gebou is. LCP Trucking, ‘n Bronberg-gebaseerde ondernemings wat in sulke vragte spesialiseer, het die vervoer namens hulle gedoen.

Lyndsay Cotton van LCP Roofing en LCP Trucking vertel dat die reëlings rondom so ‘n vrag wat twee bane versper, nie kinderspeletjies is nie. Die vrag is in Bronkhorstspruit opgelaai en moes by Middelburgmyn, langs die Duvha kragstasie, afgelewer word.


Dié abnormale vrag het twee bane versper

Omdat die abnormale vrag deur twee provinsies aangery is, moes hulle twee permitte kry - een vir Gauteng en een vir Mpumalanga. Die permit het vereis dat die trok begelei moes word.

Lyndsay sê dat hulle net na 8.30 vm uit Bronkhorstspruit weggetrek het, maar sommer al in die hoofstraat voorgekeer is en gevra is om hulle permit te wys. “Die verkeersbeampte wou ons aanvanklik nie toelaat om voort te gaan nie omdat die permit, volgens hom, ongeldig was. Hy kon egter nie verduidelik hoekom nie,” sê Lyndsay.

“Ons is net voor Witbank van die snelweg af en toe moes ons die smal paadjies na die myn aandurf. Dat die verkeer redelik ontwrig is, is 'n feit maar ons het darem al die verkeers- en permitreëls nagekom.”


Die vrag is in Bronkhorstspruit se hoofstraat deur verkeerspolisie voorgekeer

“Daar was ’n paar oomblikke waar die paaie, veral op draaie, baie skuins was en ons was bang dat die voertuig dalk gaan omval. ‘n Paar brûe op die kleiner paaie moes tydelik toegemaak word, omdat die vrag net-net deurgekom het,” sê Lyndsay.

Die reuse dakkappe is so drie en ‘n halwe uur ná vertrek veilig by die myn afgelewer.

 

© 2019 Die/The Bronberger