Swak maniere Print E-mail
News - Kommentaar
Monday, 25 June 2012 22:40
Untitled Document

My raad aan dié van julle wat nie konfrontasie en/of kritiek kan of wil hanteer nie, is om liewer nou op te staan, ‘n koppie koffie te loop maak of ‘n dop te gaan skink. Teen die tyd dat jy klaar is, behoort hierdie sessie agter die rug te wees en kan jy rustig voortgaan om al die ander interessanthede in dié maand se Bronnie te geniet.

Dit gaan vandag ‘terloops’ oor maniere. Basiese maniere. Onthou jy, dis daardie goed wat jou ouers en onderwysers jou probeer leer het?

Dit lyk soms amper of dit by sekere mense in ons gebied heeltemal aanvaarbaar is om hoegenaamd geen maniere te hê nie.

En wie is hierdie mense?

Dit is daardie een wat wegkyk, diékant toe, as jy hom of haar op die plotpad of in die dorp groet. Dit kos niks om jou hand net vir ‘n oomblik van die stuurwiel af te haal en terug te waai of net met die kop te knik as iemand met maniere vir jou dagsê nie.

En dit is diegene wat jou op die een of ander sosiale geleentheid kru toesnou: “Jy neem g’n ‘n foto van my nie!”

Of jou summier met ‘n drag slae of erger dreig as jy dit sou waag om die kamera in sy/haar rigting te mik. Dit is elkeen se goeie reg om oor welke rede ookal nie op ‘n foto in die Bronnie te wil verskyn nie, maar iemand met maniere sou jou dit op ‘n mooi manier, dalk met die gebruik van ‘n ‘asseblief’ en ‘n ‘dankie’ by jou tuisgebring het en jy sou dit so aanvaar het.

Ons is gelukkig om in ons gebied nog baie perderuiters op en langs ons paaie teë te kan kom. ‘n Motoris met goeie maniere sal die bedagsaamheid aan die dag lê om af te slek en versigtig verby te ry eerder as om in ‘n stofwolk en met brullende enjin verby te jaag en sodoende perd en ruiter se lewens in gevaar te stel.

En van stofwolke gepraat: Dié tyd van die jaar word die grondpaaie in die omgewing tot poeier vertrap. As jy maniere het sal jy die mense wat naby dié paaie woon in ag neem en net ‘n bietjie stadiger ry. Jy beïndruk niemand as jy teen nekbreekspoed met jou bakkie of vierwiel-motorfiets verbyjaag en in die proses ‘n verstikkende stofwolk op mense se wonings laat neersif nie. Dis bloot onbeskof en getuig van uiterse swak maniere . . .

 

© 2020 Die/The Bronberger