Die storie van ?n straat waar helde eens gewoon het Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 24 May 2012 10:57
Untitled Document

Boomstraat beteken vir vandag se Pretorianers toetende taxies, mensemassas en die ingang na die dieretuin. Belle Ombre is bloot ‘n busstasie wat krioel van mense en die name Rus in Urbe en Sanssouci het, soos Boomstraat se gloriejare, lank reeds uitgesterf.

In die laat 1800’s was dit die name van rustige kleinhoewes met groot ou opstalle langs Boomstraat. Dit was die tuistes en geboorteplekke van mense soos Gustav Preller, Tielman de Villiers, Jan Francois (Jan Volkstem) Celliers en die De Kocks.

In Rosa Swanepoel se Ou Pretoria nuusbrief haal sy ‘n praatjie aan wat in 1980 deur Stephanie Rood gelewer is. Stephanie se nooiensvan was De Kock en sy is op 25 Januarie 1906 in Boomstraat 191 gebore, waar sy tot haar 15de jaar gewoon het.

Stephanie het gesê dat daar agt huise in ‘n ry tussen Mark- en Kochstraat, vandag bekend as Paul Kruger- en Bosmanstraat, was. In 1980 het daar nog net twee van dié huise gestaan, onder andere die een waarin Stephanie gebore is en wat later die Sjinese skool geword het.


Donaldson en Hill se ‘nuwe’ kaart van Pretoria, soos hy in Rosa Swanepoel se Ou Pretoria nuusbrief verskyn het, wys die ligging van Belle Ombre, Sanssouci, en die groot huis op die hoek, skuins oorkant die dieretuin, wat later die Sjinese skool geword het. Die kaart is deur D Seccadanari, ingenieur en kartograaf, opgestel en in Oktober 1904 opgedateer
 

Geboorte-huis
Stephanie se Victoriaanse geboorte-huis is in 1897 op erf nommer 840, 191 Boomstraat, gebou. Dié huis het aan drie kante ‘n stoep gehad en ‘n hoektoring waarop ‘n weerhaan gepryk het. Die haan het blykbaar skeef oorgeleun sedert die dag toe ‘n baie onwelkome gas by Stephanie se familie gaan kuier het. Later jare het die haan weggeraak.  

Volgens Rosa se navorsing wys ou Pretoria se 1899 evaluasie-rolle dat daar ‘n DJ de Kock gewoon het. Op die volgende rol in 1913, woon daar ‘n weduwee DJ de Kock terwyl die grond gesamentlik aan SPJ, AA en SJ de Kock behoort. 

In 1931 is die huis deur die Jong Sjinese Kulturele vereniging en die Sjinese gemeenskap van Pretoria aangekoop om ‘n skool daar te stig. Op toekomstige rolle word die eienaar van dié eiendom as F Wang aangedui.

Die Pretoria Sjinese skool is amptelik in 1934 geopen en was op daardie perseel tot die 1990’s. In 1991 het die skoolraad besluit om die klein laerskool uit te brei om ook ‘n hoërskool in te sluit. Die Boomstraat eiendom is verkoop en ‘n groter perseel is in Wingate Park aangekoop waar ‘n nuwe skoolgebou in 1993 opgerig is.

Stephanie het vertel dat haar ouma De Kock, wat eers in dié huis gebly het, ‘n ouer suster van Tielman Niewoudt de Villiers was.


Dié Frans Oerder skildery is in 1902 gedoen en wys die tuine van Sanssouci in die voorgrond en Boomstraat se huise in die agtergrond
Uit Rosa Swanepoel se Ou Pretoria nuusbrief

Tielman
Tielman se grond is op ‘n 1889 kaart van Pretoria tussen Schubart- en Kockstraat. Tien jaar later, op ‘n 1899 kaart, strek sy grond vanaf Schubart tot by Markstraat. Hy noem die twee dele Belle Ombre en Sanssouci. 

Tielman was oorspronklik van die Groot-Drakenstein distrik naby die Paarl. Hy het as ‘n transportryer in die diamantvelde begin werk en het in 1869 in Pretoria aangekom, waar hy dadelik aansoek gedoen het om as notaris te praktiseer. In 1870 het hy ‘n lisensie as rondgaande handelaar gekry en in 1875 het hy toestemming gekry om as prokureur te praktiseer. 

Van toe af was daar geen keer aan Tielman se meteoriese opgang in die gemeenskap nie. Hy het kaptein van die Vrywilliger Korps geword, krieket vir die ‘South African Born’-span gespeel, en het ‘n perd besit wat aan die plaaslike perdereisies deelgeneem het.

Tielman was in 1885 ‘n stigterslid van die Pretoria-klub, ‘n stigter van die eerste Pretoriase landbouvereniging en voorsitter van die tydelike stadsbestuur wat in 1897 daargestel is. Baie mense sê dat dié aanstelling Tielman eintlik Pretoria se eerste burgemeester gemaak het.

In 1889 het hy vergunning gekry om versiersels van die orde van die “Militaire Portuguesa de Nosa Senhora da Conceiqua de Villa”, wat deur die koning van Portugal aan hom geskenk is, te dra. Hy het die ZAR in 1889 by die Wêreldskou in Parys verteenwoordig en het Bloemhof later in die Volksraad verteenwoordig.

Tielman het vyf dogters en drie seuns gehad. Die seuns is René, Désiré en Amauri genoem. Van dié drie sou Désiré vir latere generasies die bekendste wees vanweë sy buitengewone marmergrafsteen in die Kerkstraat-begraafplaas.


Tielman Nieuwoudt de Villiers, 18 Februarie 1846 – 18 April 1925

Désiré de Villiers het op 18-jarige ouderdom in die Tweede Vryheidsoorlog gesneuwel

Desiré
Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog het Désiré as jong student in die regte sy studies op Stellenbosch laat vaar om by die Boerekrygers aan te sluit.

Generaal Ben Bouwer, wat geskryf het oor lafhartigheid op die slagveld, het genoem dat hy die braafste jong man in die persoon van Désiré ontmoet het. Dit was vir hom as generaal ‘n verrassing dat dié stil, senuweeagtige en teruggetrokke seun so op die front uitgeblink het.

Hy wou aanvanklik vir Désiré ‘n non-vegtende pos skep wat hom uit veldslae sou hou, maar Désiré het geweier. Hy was altyd aan die voorpunt van die vegtery, tot hy by die Tugela, naby Ladysmith, onder omstandighede van uitsonderlike heldhaftigheid gesneuwel het.

Désiré is in die ouderdom van 18 jaar op 11 Desember 1899 dood. Hy is aanvanklik in Natal begrawe waar hy gesneuwel het. Sy pa, Tielman, het Désiré se oorskot later in Pretoria se Kerkstraat-begraafplaas laat herbegrawe en het ‘n standbeeld van wit Carrara marmer in Italië laat maak. Dit beeld ‘n gewonde Boerekryger uit met sy geweer in die hand en bandolier oor die skouer.


Só het die ou De Kock-woning, wat die Sjinese skool geword het, in 1986 gelyk

Die De Kock-woning in 2010, naby die Bella Ombre busstasie

Jan
Dié brawe oom van Stephanie Rood, was net een van vele bekende familielede wat in Boomstraat gebly het. Waar die dieretuin vandag is, was eens die Rus in Urbe landgoed van Jan Celliers, Stephanie se oupa. Hy was haar ma Hester se pa.

Die drukker Johannes Francois Celliers het sy opleiding in die Paarl ontvang. Op 24-jarige ouderdom het hy ’n joernalis by ‘Het Volksblad’ geword. Hy is na Pretoria gelok deur president Burgers wat hom gevra het om ’n pro-regeringskoerant - ‘De Volkstem’ - in Pretoria uit te gee om as teenvoeter vir die Engelse koerante te dien.

Die eerste koerant het op 8 Augustus 1873 die lig gesien en het openlike steun aan die Transvaalse burgers uitgespreek. Die gevolg was dat Jan in 1880 vir ’n maand lank deur die Britse regering gevange gehou is. Generaal Joubert het gereël dat ’n bedrag geld ingesamel word sodat Jan ná sy vrylating weer die koerant kan uitgee.

Dit het hy tot in 1881 gedoen toe hy sy drukkery aan die regering verkoop het om die grondslag vir die staatsdrukkery te vorm. Dieselfde jaar het hy Volksraadslid en sekretaris van die Afrikanerbond geword en hom aan politiek toegewy tot sy dood op 4 Maart 1895.

Jan was die bekende Afrikaanse digter, Johannes Francois Elias, bekend as Jan FE Celliers, se pa. Een van Jan se dogters, Suzanna Wilhelmina (Sannie) Celliers, is op 3 February 1895 vanuit Rus in Urbe met die beeldhouer Anton van Wouw getroud.


Digter Jan FE Celliers (1865-1940)

Gustav Preller

Gustav
Jan het Rus in Urbe in die 1880’s aangekoop. Voor hy dit herdoop het, was die plaas bekend as Klein Schoemansdal, geboorteplek van Gustav Schoeman Preller. Gustav is op 4 Oktober 1875 daar op sy oupa aan moederskant, generaal Stefanus Schoeman, se plaas gebore.

Gustav het net omtrent drie jaar skoolopleiding gehad en het aanvanklik in Pretoria as winkelassistent, toe prokureursklerk en as klerk in die Departement van Mynwese gewerk.

Hy het Dr FV Engelenburg in 1924 opgevolg as redakteur van ‘De Volkstem’, maar het in 1925 bedank om politieke redes en redakteur van ‘Ons Vaderland’ - later ‘Die Vaderland’ - geword. Hy was ook redakteur van ‘Die Brandwag’.

Gustav is met Johanna Pretorius, ’n afstammeling van beide generaal Andries Pretorius, held van Bloedrivier, en die Voortrekkerleier Piet Retief, getroud. Hy is op 7 Oktober 1943 oorlede en sy oorskot is op tradisionele wyse per waentjie na die familiebegraafplaas by Pelindaba vervoer waar hy by die grafte van Marthinus Wessel Pretorius en Deborah Retief begrawe is.  

 

© 2024 Die/The Bronberger