Luislang maak 40 jaar se herinneringe wakker Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 24 May 2012 10:55
Untitled Document

‘n Bielie van ‘n luislang het verhale rondom die bou van Waterlake Farm se dam in herinnering geroep.

Derk Derksen, een van die inwoners van Boschkop op die Lynnwoodweg-verlenging wat seker al die langste in dié gebied woon, sê dat dit die eerste keer in 40 jaar is wat hy ‘n luislang daar sien.

Derk het in April saam met Daniël Bosman, ‘n nuwe intrekker by Waterlake, ‘n vleisie by die rivier gebraai en het die luislang by die dam se inloop aan die oostekant gewaar waar hy in die vlak water op die brug gelê het.


Die jare toe daar nog net ‘n grondwal oor die rivier was
Foto: Derksen familie-album

Lebonk
Derk het in die middel van November 1971 saam met sy ma en stiefpa, Bess en Wynne Verster, na plot 86, 9 en 10, wat op die ou kaarte as Lebonk aangedui word, verhuis.

Plot 10 grens aan die Pienaarsrivier en destyds het Theuns Bester, wat die Waterlake Farm-grond toe besit het, die keerwal vir die Theuns Bester Voëlparkdam daar gebou.

“Theuns het aangebied om die vier-meter keerwal aan ons kant van die grenslyn te bou omdat die damwater die drif na die oorkant van die rivier sou oorspoel,” sê Derk.


Derk se eks-vrou, Zelda, by die dam en damwal nadat die beton in die middel-tagtigerjare gegooi is
Foto: Derksen familie-album

“My broer Johann is later met Daleen, oom Andries en Miemie Uys se dogter, getroud en die driffie was nogal gereeld gebruik om plot 25 oorkant die rivier te bereik.”

Derk vertel dat dié grond nou braak lê oor die swak ekonomie. Plot 86, 10, 9 en die grootste gedeelte van plot 25 is reeds gekonsolideer ná die nodige departementele toestemming en goedkeuring. Dit staan bekend as die 110 ha grootte Riverview Country Estate.


Derk se oorlede skoonpa, Hermann Goetsch, vang toentertyd vis saam met ‘n nefie van Derk se kinders, Dirk Derksen, by die rivier naby aan die plek waar die keerwal gebou is
Foto: Derksen familie-album

Bester
Die buur-ontwikkeling, Waterlake Farm, is 300 ha groot met reekse dammetjies en die dam van 20 ha wat Theuns Bester van 1983 tot 1985 gebou het. Theuns het die plaas in die middel sestigerjare by ’n Dr Wynn gekoop. Toe die Bester-broers in 1993 bankrot gespeel het, is die plaas op ’n veiling aan Sinovich Investments verkoop.

Dié groep het die plaas verskeie kere verkoop, maar die koop het telkens deur die mat geval tot ’n Amerikaner, Eugene Delaney Jackson, wat sy Afrika-wortels kom opdiep het, die plaas in 1997 gekoop het. Hy het die plaas tot 2005 besit toe die ontwikkelaars van Waterlake Farm die plaas bekom het.


Die woorde op die bord by die pasvoltooide damwal sê: 1986 – Theuns Bester Dam Voëlpark
Foto: Derksen familie-album

Dierelewe
Beide Waterlake en Riverview het oorvloedige voël- en dierelewe, soos jakkalse, duikertjies en selfs ystervarke wat die bolplante op Derk se stoep gaan uithaal.

Die luislang wat Derk en Daniël gesien het, was bykans 3,5 meter lank en die bult in sy lyf het duidelik gewys dat hy onlangs prooi gevang het. Die gewone luislang, Python sebae natalensis, kan naby standhoudende water aangetref word, waarin hy graag vir lang tye lê. Hy is die grootste slang wat in die bosveldgebiede van ons land voorkom en word tot ongeveer ses meter lank.

Jong luislange vreet meestal knaagdiere, maar soos hulle ouer word, vreet hulle klipdassies, fisante en tarentale. Volwasse luislange vang kleiner boksoorte, en die uitgegroeide reuse kan ook koedoekalwers en rooibokke vang.


Die luislang in die dam se inloop by Waterlake Farm
Foto: Daniel Bosman

 

© 2024 Die/The Bronberger