?n Lekker Dinsdag ?special? op Saterdag Print E-mail
News - Vreethans
Thursday, 24 May 2012 10:28
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie

Die sonnetjie bak lekker uit die noorde op Rafters se kuierstoep neer as ons dié mooi Saterdag agter ‘n hoë balietafel inskuif met die vooruitsig van ‘n ietsie nat en ook ‘n ietsie droger oor die lippe.

By Rafters het dinge sommer baie verander sedert ons baie jare her die eerste keer by dié plattelandse kuierplek in Garstfonteinweg-verlenging ingeval het. Destyds het ons lekker by Joan en Joe saam met ander plaaslikes in die klein kroegie op die bo-dek gekuier. Deesdae het jy ‘n keuse van sitplek op ‘n ruim oop stoepgebied, ‘n oop lapa, ‘n baie groot kroeg en ‘n toegeboude kuierstoep – waar ons net ‘n baie klein rukkie op ons drankies en spyskaarte wag. Die diens is vriendelik en flink.


‘n Bielie van ‘n Dinsdag-T-been op ‘n Saterdag en ‘n pizza sonder vleis

Ek het iewers gelees van die lekker T-been van 500 g wat op Dinsdae teen net R45 voorgesit word. Ja, sê die gawe kelner, hulle het van daai Dinsdag T-bene, maar vandag noem hulle dit ‘n Saterdag T-been en dan kos dit R69. Jy kan hom bestel saam met skyfies, bakaartappel, slaai, of pap-en-sous. Ek besluit op laasgenoemde.

Die T-been op Saterdag by Rafters is nog ‘n winskoop. Die pap is regte stywepap en die sous is smaaklik, al is dit ‘n bietjie skraps na my voorkeur. Opvallend vir my is dat die T-been lekker dik gesny is om die 500 g vol te maak en dat my versoek van amper gaar (medium rare) vir een keer in die kol is.

Die braaisous waarin die bees gedoen is, geval my, al verkies ek gewoonlik ‘n ryp biefstuk bloot met sout en swartpeper saam.

Metgesel besluit op ‘n vegetariese pizza en vind dit besonder smaaklik en genoegsaam teen net meer as R40. Sy meen egter die kors is ‘n bietjie hardgebak na haar smaak, maar sy is seker dat mense wat groot is op ‘krispie’ dit sal geniet.


Jy kan gemoedelik op dié stoep kuier, eet en/of drink of jy kan dieselfde in die kroeg doen

Rafters se spyskaart bied ‘n wye keuse van ligter en swaarder etes, burgers, pizzas, mandjies en deelborde. Jy kan ook uit verskeie ontbytgeregte kies. Die pryse is deur die bank baie billik en heelwat laer as die gemiddeld. Die maklike en baie parkeerplek en aansitplek in die oopte is vir ons ‘n groot pluspunt.

Die plek is by uitstek ‘n kuierplek en saans en oor naweke kook dit glo met ‘n teater wat lewendige (nog nooit van ‘n ander soort gehoor wat nog optree nie) kunstenaars, dans en ander vermaaklikhede bied.

Ons het die kuierslag en kos by Rafters geniet. Dit bly, soos in die ou dae, plattelands, ontspanne en gemoedelik. As jy meer wil weet bel hulle by 083-302-1076.

 

© 2020 Die/The Bronberger