Het jy gehoor? / Have you heard? - Mei 2012 Print E-mail
News - Het Jy Gehoor
Thursday, 24 May 2012 10:25
Untitled Document

Boschkop Kleuterskool word gedwing om aan die einde van Junie toe te maak. Befondsing vir die skool met sy 107 leerlinge is steeds in plek, maar daar is nie meer vervoer vir die kinders nie. Kungwini Welsynsorganisasie het dié kleuterskool in 2000 begin. Die vervoerprobleem bring mee dat 12 jaar se infrastruktuur-opbouing om ‘n gemeenskapsdiens daar te stel, nou tot ‘n einde kom. Ses onderwysers en 10 vrouens wat aanvanklik as vrywilligers begin help het en ook later opgelei is, gaan nou werkloos wees. Die behoeftige kleuters gaan ook sonder hulle twee daaglikse etes wees. Kungwini Welsynsorganisasie het ‘n 99 jaar huurpag vir die grond waarop die kleuterskool is en sal die gebou nie graag wil laat leeg staan nie. Die goedkoopste kwotasie om die kleuters te vervoer, beloop R30 000 ‘n maand.

xxx

Die legendariese Springboklosvoorspeler en afslaer van Rietfontein, Jan Ellis, is met kanker gediagnoseer. Ons bede en beste wense gaan aan Jan en sy gesin.

xxx

Cullinan Veilings Korporatief het hulle eerste veeveiling op 12 Mei by die landbousaal gehou. Ingang is gratis en die veilings word elke Saterdag gehou. Die losbate-veiling begin om 9 vm en die veeveiling om 11 vm. Die mikpunt is om dié veilingdae soos basaars van ouds te maak waar die hele gesin saam kan kuier. Vir meer inligting, bel Johan by 072-266-3907 of Pieter by 072-524-7990.

xxx

Edna Molewa, minister van omgewingsake, het aangekondig dat haar departement oorweeg om die internasionale gemeenskap te nader met ’n voorstel om renosterhoringhandel te wettig om die voortbestaan van die spesie te verseker. Sedert die begin van die jaar is 200 renosters reeds deur stropers doodgemaak in Suid-Afrika, waar 90% van die kontinent se renosters is. Suid-Afrika het ’n geraamde 20 ton-voorraadopgaring van renosterhoring wat die mark kan oorstroom en pryse afdwing. Die finale besluit oor die opheffing van die verbod op renosterhoringhandel kan eers volgende jaar in Maart by die 16de kongres van die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (Cites) in Bangkok, Thailand geneem word.

xxx

Affies AHMP se 1982 matrieks hou op 4 Augustus hulle 30 jaar reünie by die skool. Hulle soek onder andere nog na Elma (Venter) Smit en Charelle (de Kock) Malan. Vir meer inligting stuur ‘n e-pos aan This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of skakel 076-250-9119.

xxx

‘n Groep mans en vrouens sit onlangs by een van die Bronberg se watergate en gesels oor gesondheid. Mense oefen mos deesdae sodat hulle gesonder kan doodgaan. Een van die mans sê hy weier om te draf omdat dit die ys uit sy glas laat skud. Sy vrou kyk hom so en sê sy dink die enigste rede waarom sy sal begin draf is sodat sy weer swaar asemhaling kan hoor.

xxx

Het jy dalk gewonder hoekom boerpampoene vanjaar skaarser as hoendertande is? Dis nou daardie groot wit, plat pampoene wat vroeër jare oral op sinkdakke gesien kon word en wat verlede jaar nog oral langs die paaie en in groentewinkels gekoop kon word. Wel, die rede vir dié verskynsel lê opgesluit in die feit dat die sogenaamde ysterpampoen (daardie vaalgroen ene) verlede jaar baie beter pryse behaal het as die getroue ou boerpampoen. Dit het meegebring dat pampoenboere nie meer boerpampoenboere is nie en nou bykans deur die bank eerder ysterpampoenboere is. Die gevolg is natuurlik dat boerpampoene (as jy een kan kry) vanjaar baie duurder is as ysterpampoene.  

xxx

Hoeveel munisipale werkers is nodig om ‘n rooi streep oor ‘n straatnaam te plak? Die foto is geneem toe die bekende Hans Strijdom-rylaan moes swig voor Solomon Mahlangu Drive.

 

 

© 2020 Die/The Bronberger