Eindelik het ons riglyne Print E-mail
News - Kommentaar
Thursday, 24 May 2012 10:17
Untitled Document

Die Tshwane Metroraad se eerste voorlopige begroting sedert hulle by Kungwini en Nokeng oorgeneem het, laat wel stof tot dankbaarheid op sekere vlakke.

Só blyk die stadsbeplanningsafdeling van die metroraad ‘n geweldige verbetering te wees op die sukkelaars wat voorheen in die Bronberg-gebied opgesnork het. ‘n Mens kan natuurlik redeneer dat enigiets ‘n verbetering op Kungwini en Nokeng se pogings sou wees.

Geen riglyne het voorheen bestaan by ruimtelike ontwikkeling nie en stadsgrense is veral nie deur Kungwini volgens aanvaarbare beginsels vasgestel nie. Die vorige rade was trouens in die meeste opsigte nie ‘groot’ op beginsels nie.

Die riglyne wat nou deur Tshwane daargestel word, sal nie ewe gewild in alle kringe wees nie en kan bes moontlik deur baie as onregverdig teenoor grondeienaars en ontwikkelaars beskou word, maar minstens sit ons nou vir die eerste keer in baie jare met riglyne. Iets wat voorheen nie bestaan het nie.

In dele waar ontwikkeling reeds geskied het en in gebiede waar hoewe-eienaars uitgesien het na die finansiële voordeel wat hulle vorentoe uit ontwikkeling sou kon trek, is enige ontwikkeling vir alle praktiese doeleindes tot ‘n halt geroep.

Grond wat knap teen trosbehuisingsprojekte lê, sal in die toekoms nie kleiner as in eenhede van vyf hektaar onderverdeel kan word nie. Iets wat buitendien nie prakties uitvoerbaar is in die Bronberg-gebied waar die meeste hoewes 8,6 ha groot is nie.

Tshwane vereis dat pypwater eers in plek moet wees voor onderverdeling kan gebeur en dan mag die kleinste eenhede minstens een hektaar groot wees. ‘n Verdere vereiste wat die nuwe raad stel, is dat ‘n meesterplan vir paaie in die omgewing van ‘n ontwikkeling in plek moet wees. Die ontwikkelaar self sal die koste hiervoor moet dra.

Hoewel dié nuwe riglyne goeie nuus sal wees vir natuurliefhebbers en omgewingsbewustes, lê daarin tog ook bittere onregverdigheid opgesluit.

Die begroting stel ook ‘n allemintige verhoging in tariewe van tot 25% vir die gebied voor. Een besluit wat ‘n mens amper wil laat terugverlang na Kungwini en Nokeng. Dit sou sekerlik nie onbillik wees nie om te verwag dat die geld wat uit die mense van die gebied getap gaan word, in die gebied aangewend moet word om gebrekkige en afwesige dienste en infrastruktuur daar te stel.

Een ding wat seker is, is dat dit nie maklik gaan wees om uiteindelik reg te ruk waar daar oor jare heen op groot skaal aangejaag is nie. Aktiewe belangstelling en deelname aan openbare prosesse deur die gemeenskap, gaan onontbeerlik wees in hierdie proses.

 

© 2020 Die/The Bronberger