PDF Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 24 April 2012 22:46
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel maak gereeld ’n draai by verskillende kuierplekke in die Bronberggebied en betaal self vir dit wat hulle geniet – of dalk nie geniet nie.

As jy nie gholf speel nie, het jy niks daar te make en sal jy nie welkom wees by ‘n gholfklub nie – reg? Nee, verkeerd. Só vind ons een goeie Sondag uit toe ons besluit om by Cullinan se gholfklub in te val.

“Meer as welkom,” sê vriendelike vrou wat die spyseniering doen. Sy het ongelukkig, weens ‘n gebrek aan belangstelling, vir eers weggedoen met die spesiale gekookte etes en ander geregte en ons kan net die ligte etes van die spyskaart af bestel.

Vriendelike kroegman wil sommer met die intrapslag al weet wat ons gaan drink en in hierdie afdeling is die klub se keuses glad nie beperk nie en boonop baie billik geprys.

Ek en Metgesel en Vriend en sy Vriendin neem plaas by ‘n tafeltjie op die stoepdek met ‘n uitsig oor die mooi baan. Jy kyk oor die setperk van die negende puntjie heen, tussen die ou bome deur en al met die skoonveld langs tot doer anderkant teen die randjie uit. Strelend, rustig en mooi.


Lekker kuier onder ‘n koelteboom in die oopte met ‘n mooi uitsig oor die baan

Eers dink ek die ou wat so stadig oor die skoonveld aangestap kom, speel alleen vandag, tot ek later sy drie speelmaats een vir een agter die bloekombome sien uitsukkel.

Ons geniet ons drankies, neem die spyskaart met een blik in, verlustig ons in die oopte en die soel weer en sit tussenin sommer en nonsens praat met ons vriende.

Die eerste inskrywing op die spyskaartjie roep kindertydse herinnering by my op. By Danny se kêffie op die hoek het ons altyd ‘paai en greiwie’ (vleispasteitjie en sous is net nie reg nie) bestel en dan boonop toegegooi met die dun tamatiesous uit die rooi, plastiese tamatiebotteltjie. Dan het jy dit geniet terwyl jy na musiek uit die ‘jukebox’ luister.

Ek en Vriend besluit op die pasteitjies met sous en skyfies, oftewel ‘paai met greiwie en tjips’. Die pasteie is tuisgemaak en uitsonderlik lekker – as jy van ‘n skerp smaak hou. Ons hou daarvan. Vriend merk dat die skyfies ‘regte tjips’ is wat op die perseel uit regte aartappels gesny is. Die pastei kos R25.


‘n Billike biefburger met tuisgemaakte frikkadel

Dieselfde maalvleis van die pastei is gebruik om Vriend se Vriendin se burgerfrikkadel te bou. Sy hou daarvan. Skerp, sê sy, maar regtig smaaklik. Dir kos R40.

Metgesel bestel ‘n hoenderburger en is verras dat ‘n regte, hoender-Schnitzel gebruik word en nie ‘n winkelfrikkadel nie. Dit kos R38. Daar is nog enkele ander keuses op die spyskaart.

Al was daar nie dié keer ‘specials’ van die dag beskikbaar nie, het ons genoeg geëet en lekker geëet. Ons het veral lekker ontspan en gemoedelik gekuier.

 

© 2019 Die/The Bronberger