Gemeenskap werk uiteindelik saam met polisie Print E-mail
News - Rubrieke
Wednesday, 21 May 2008 02:00

Breytie Breytenbach

Op 3 Maart vanjaar is ene Lucky Kaiser skuldig bevind aan die moord op 28 Desember 2005 van Leoni Chandler, in lewe van Tweedragt. Hy is gevonnis tot lewenslange tronkstraf.

Dit is tragies dat so iets as goeie nuus beskou kan word, maar in die half bizarre omstandighede waarin ons elke dag moet leef, vind ons bevrediging in so ?n vonnis.

Gelukkig is daar ook ander goeie nuus wat nie spruit uit die dood of opsluiting van enigiemand nie. Dit is wonderlik om te ervaar hoe die gemeenskap van die Bronberg deesdae saamwerk met die Boschkopse Polisie. Daar word nie net met mekaar gepraat nie, maar dinge word saam gedoen. Dis waarom die polisiestasie nou so netjies lyk en so oop en ruim voorkom. So goed kom die personeel nou met mekaar oor die weg dat selfs ?n paar katte hulleself daar aangemeld het vir versorging. In ruil, natuurlik, vir die vang van rotte wat maar gedurig van die veld se kant af insluip. Tans beskik Boschkop-stasie ook oor ekstra kantoorruimte deurdat tydelike kantore daar geparkeer is.

Ander besonder goeie nuus is dat meer as dertig lede van die publiek nou opgelei kan word vir die polisie se reserwemag. Almal sal in kategorie D registreer, wat beteken dat hulle slegs in hulle eie woongebiede ontplooi mag word.

Dit sal die hande sterk in daardie gemeenskappe waar misdaadvoorkoming aktief gedoen word. Die opleidingsgeleentheid is juis ook die gevolg van ?n baie goeie verhouding tussen die Boschkop- en Garsfontein-stasies.

Dié goeie reserviste-nuus kom in ?n tyd waarin sommige gemeenskapslede suksesvol saamwerk met Telkom om die diefstal van kabels te keer. As ?n paar mense die mag van ?n konstabel kan hê, sal dit die effek van sulke voorkoming baie kan verhoog.

Maar vir my kom die belangrikste goeie nuus uit Zwavelpoort. Dinge is besig om te gebeur. Daar is reeds ?n stewige groep inwoners wat gereeld patrollie ry. Mense begin oplet na wat om hulle aangaan en gee waardevolle inligting deur. Sommige is reeds oortuig dat daar minder nagtelike aktiwiteit te bespeur is as gevolg van die betrokkenheid van die groepie.

Gereelde kommunikasie per e-pos vind tussen dié lede plaas. Weliswaar sluit dit nog nie ?n groot getal mense aan die suidekant van die berg in nie, maar ?n begin is gemaak. Nou is dit onafwendbaar dat die veranderde houding oor die berg se nek sal sluip en stadig maar seker mense aan die suidekant se gedagtes sal betree. Toekomstige reserwemaglede sal in daardie deel baie meer gewig kan verleen aan die patrollies wat gery word. Hulle sal die mag hê om verdagte voertuie te stop en ook om skelms in hegtenis te neem.

Intussen word die ledetal van die georganiseerde gemeenskappe aan die noordekant hoër en die voorkoms van misdaad laer. Genoeg is gedoen om te illustreer dat samewerking tussen bure die enigste effektiewe antwoord is op die misdaad wat ons land teister.

Uit ons eie Bronberg-gebied ontspring die goeie nuus dat ons nie net misdaad voorkom nie, maar in die poging ook die dividende van nuwe vriendskappe ontvang en die genoegdoening smaak van mense wat weet dat hulle iewers behoort en dat hulle waardeer word. Indien enigiemand kans sien om die fondse te verskaf om ?n kat of twee te laat steriliseer, bel asseblief vir Sup. Groenewald by Boschkoppolisiestasie.

Daar word ook nog gewag vir ?n elektrisiën wat bevoeg is om ?n sertifikaat uit te reik vir die traumasentrum. Skakel 012-802-1084.

Vir meer inligting, bel vir Breytie Breytenbach by 012-802-1532.

 

© 2024 Die/The Bronberger