Deegkeuses verstom ons PDF Print E-mail
News - Vreethans
Thursday, 23 February 2012 01:06
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel maak gereeld ‘n draai by verskillende kuierplekke in die Bronberg-gebied en betaal self vir dit wat hulle geniet – of dalk nie geniet nie.

Ons het op ‘n snikhete Saterdag in die mooi bewaringswêreld van Rietfontein rondgery, die omgewing en die voël- en dierelewe bekyk en bewonder en toe word ons honger. En dors. Die besluit om sommer net daar binne die bewaringsgebied na ‘n afsaalplek te soek, werp geen vrugte af nie en ons kies koers Rayton se kant toe.

By die eerste plek waar ons aandoen, volstaan ons eerder net met ‘n koffie en toe sit ons af Friends toe.

Dit is lekker koel onder die hoë grasdak wat Friends se eetplek bedek. Net ‘n paar tafels daar en nog ‘n paar neffens in die stoep se oopkant.


Dis lekker koel onder die hoë afdak

In die gerieflike kroegie sit ‘n paar vriende met koue bruisdrankies in die hand en gesels. Die kroegdame sê sy sal nou by ons wees en net daarna kom sê die vriendelike kelnertjie vir ons ook sy sal ‘nou by ons wees’.

Dit raak gou duidelik dat eienaars, personeel en gaste hier by Friends gemaklik en gemoedelik met mekaar omgaan – soos vriende dit mos doen.

Ons neem plaas by een van die tafels en begin lees aan die spyskaart. Jy moet jou regmaak vir ‘n stywe leessessie as jy sou besluit om die hele spyskaart deur te werk.

Ons kry iets om die ergste dors aan te spreek en raak dan verstrengel in die magdom keuses wat die plek jou bied.

Ontbyt wissel van die Early Bird teen R18.50 en die Farmhouse teen R24. 50 tot die Diamond Digger teen R43.00 en die Hungry Farmer teen R49.00. Of jy kan ‘n omelet teen R19 probeer met ‘n vulsel teen R4 ekstra.

Op die spyskaart kry jy die gewone T-been (R54 vir 300 g) Sirloin (ook R54) en stokvis en tjips of kerrie en rys (R28) en braaihoender en dies meer, maar dit is die dinge wat Friends alles met deeg aanvang wat jou verstom sal laat.


Die vetkoek-dagwood-gedoente van Friends

Iemand met ‘n ryk verbeelding en ‘n avontuurlike sin vir kombinasies het ‘n magdom vulsels vir burgers, brode, Franse brode, vetkoeke en pizzas uitgedink.

Die pizza-spyskaart alleen bied jou by die 30 kombinasies wat in sewe kategorieë ingedeel is. Daarby kan jy kies tussen ‘small, medium en large’. Ja, die hele spyskaart wat ons onder oë gehad het is in Engels. Ek wonder tog hoeveel Engelstaliges by Friends kom kuier.

Hoe ookal, as jy een pizza hier aankoop, kry jy nog een gratis. Deur die bank. Die pryse wissel dan van gemiddeld iets oor die R50 vir klein, iets oor die R70 vir medium en iets oor die R80 vir groot. Dit dan nou vir twee pizzas.

Hulle maak ‘n gedoente by Friends met vars Franse brood van 22 cm lank en ‘n keuse van 24 vulsels. Benewens die verskeie ham- en hoenderburgers en roosterbrode kan jy uit 34 soorte vetkoeke kies. Ek en metgesel besluit op dié opsie.

Ek bestel ‘n enkel ‘dagwood’ vetkoek en metgesel ‘oortree’ met een van hoender, mayo, kaas en eier teen R22. Sy bestel ekstra uie daarby teen R2. Metgesel sê dit was iets wat sy jare terug al moes geëet het, maar sy dink sy sal eers weer ‘n jaar wag vir die volgende een.

Die vetkoeke is groot, lig en baie lekker. My ‘dagwood’ is ‘n billike gedoente wat ‘ou grootbek’ van daai tjoklitadvertensie nie met sy rekbek sou kon baasraak nie. Ek sien daarop: kaas, eier, spek, ham, tamatie, burgerfrikkadel, slaai en nog wat. Ek geniet dit. Die vetkoek-dagwood-gedoente is ‘n ‘bargain’ teen R38.

 

© 2019 Die/The Bronberger