Print E-mail
News - Vreethans
Wednesday, 21 May 2008 02:00

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Die kar se ruitveërs en verwarmer werk oortyd toe ons uit die Boschkopteerpad afdraai na Kitty Hawk se Klubhuis Restaurant toe. Ons het iewers gelees dat Nico en sy Lynette van Zwavelpoort se amperse legendariese Nikos nou die kuierplek by die Bronberg se eie vlieghawe bedryf. Ons kry koud, ons is honger en ons het lus vir kuier. Die klubhuis by Kitty Hawk is ‘n imposante gebou.

Die kuiervertrek is ruim en die dak is hoog sodat daar op die tweede vlak balkonne ingerig kon word, vanwaar mense die manewales van die vliegmasjiene kan dophou. Maar weens die weer, is die vliegtuie vandag op die grond en ‘n paar van hulle eienaars sit in hulle vliegpakke om die kroeg en by die tafeltjies. Maar wat ons die meeste op daardie nat, trietsige dag beïndruk, is die putvuur wat min of meer in die middel van die kuierplek brand. As jy by die kroegie sit, kan jy die strelende hitte van die doringhoutvuur aan jou rug voel.


?n Doringhoutvuur by Kitty Hawk se Klubhuis Restaurant

Die vriendelike kroegman is eintlik‘n bakker van beroep, hoor ons later. Dit kan seker in bepaalde omstandighede verwarrend wees om die skinker en die bakker in een mens te hê, maar vir die restaurant kan dit baie voordelig wees, dink ek. Die mense wat op dié Saterdag by Kitty Hawk kuier en dié wat bedien, is duidelik ontspanne, gemoedelik en vriendelik. Seker te danke aan Nico en Lynette, dink ek weer. Vriendelikheid is mos aansteeklik.

Die spyskaart bied ‘n verskeidenheid van steaks en ou gunsteling kombinasies soos kerrie-en-rys en vis en tjips, maar soos in die dae van Nikos is daar altyd ‘n verassing vir die smulpaap. Spesiale afval- en oxtail-dae word byvoorbeeld gehou en Lynette se onvergeetlike Sondagmiddagetes is weer beskikbaar. Die ontbytspyskaart trek my aandag en al is dit al laat, hoor ek hoe‘n ‘local’ een Pitts Special ontbyt bestel. Jy kan ook die Jabiru, die Staggerwing of die Slick bestel, maar ek besluit op die meneer onder die ontbyte wat hulle die Airbus noem.

Jy kan ook jou eie ontbyt bou deur lekkertes soos viskoekies, worse en‘hash browns’ by te voeg. Ek voeg by en die gevolg is ‘n middagbrêkvis wat my byna baasraak. Metgesel besluit om die koue verder die stryd aan te sê en bestel die warm hoenderlewertjies. Die rissie- en knoffellewertjies vind sy baie warm en baie geurig op die tong. Ek het, so met die lekker kuier saam, skoon vergeet om die pryse neer te skryf, maar ek kan onthou dat dit ‘n ‘bargain’ was.

Jy kan vir Nico by 083-334-4714 bel. Die klubhuis is toe op Maandae.

 

© 2024 Die/The Bronberger