Die verhaal van Pretoria se eerste jakarandas Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 23 February 2012 01:05
Untitled Document

Ons wêreld se jakarandabome tree deesdae vreemd op. Daar is van dié bome wat steeds in Februarie blom en ‘n sogenaamde wortelverrotting het ‘n gesin groot skade berokken toe ‘n reuse boom bo-op hulle motors en tuinwoonstel geval het.

Ons het laasjaar berig dat die jakarandas laat in Oktober eers begin blom het. Gewoonlik verdwyn alle blomme teen November, wanneer die bome begin blare kry. Vanjaar bly sekere bome steeds in Februarie bo in hulle krone blom.

Bronbergse plantkenner, Petro Lemmer, het laasjaar gesê sy kon die laat blommery dalk aan die onnatuurlike koue wat maar net nie wou wyk nie, toeskryf. Hoekom hulle nou aanhou blom buite hulle blomseisoen, weet niemand nie.

Op 7 Februarie het ‘n jakaranda, waarvan die wortels glo lankal gevrot het, op twee motors en teen die Ludik-gesin van Cullinan se tuinwoonstel geval. Volgens Deon Bodenstein, wat in ’n huis langs die woonstel woon, het hy al in 2006 in ’n brief aan die Nokeng-munisipaliteit versoek dat hulle die boom uithaal omdat sy wortels begin verrot het en hy een of ander tyd gaan omval.

Dit laat die vraag ontstaan hoe oud ‘n jakaranda kan word. Die eerste twee jakarandas in Pretoria is in 1888 deur markmeester JD (Japie) Celliers op sy eiendom, Myrtle Grove, aangeplant. Dit is waar Sunnyside se Engelse laerskool, in Celliersstraat 146, vandag is. Dié twee bome is met ‘n gedenkplaat gemerk en hulle staan vandag nog, wat hulle 124 jaar oud maak.


Bo in die kroon van Cullinan se jakarandabome is daar in Februarie steeds blomme te sien

Invoer
Voor dié bome in Pretoria aangeplant is, het die Jakarandastad in die 1800’s as ‘Die stad van rose’ bekend gestaan.

Die Jacaranda Mimosifolia bome kom oorspronklik van Suid-Amerika, en blykbaar het Japie Celliers die bome vir £10 elk aangekoop. Sekere bronne sê dat Japie die bome self van Rio de Janeiro ingevoer het, terwyl ander sê dat hy hulle van ‘n besending bome gekry het wat deur Baron von Ludwig vanaf Brasilië na Kaapstad ingevoer is.

Daar is ook bronne wat sê dat dié twee bome deur ‘n besoekende tuinboukundige van Kaapstad, genaamd Tempelmann, in Japie se tuin geplant is. Die feit bly staan dat Japie se twee die eerste jakarandas in Pretoria was.

In 1903 het James Clarke, toe die Staatstuinboukundige, opdrag gekry om bome vir die Staatskwekery in Groenkloof te kweek. Hy het die saad van Australië bestel en blykbaar het ‘n pakkie jakaranda-saad per ongeluk in die bestelling beland. James het die sade geplant en in 1906 ‘n paar jakarandabome aan die munisipaliteit van Pretoria geskenk.


Raadslid Danie Erasmus by die jakaranda wat op 7 Februarie op die Ludiks se Cullinan-tuinwoonstel en motors geval het
Foto: Liza van Deventer

Blom
Dié jakarandas is in Bosmanstraat (wat toe Kochstraat was) geplant en die blomme het die stadsvaders so beïndruk, dat hulle besluit het om jakarandas op groot skaal te begin aanplant. James, wat die bynaam ‘Jakaranda Jim’ gekry het, het die taak ontvang om jakarandas in al Pretoria se strate te plant.

In 1962 is jakarandas wat wit blomme dra vir die eerste keer in Pretoria geplant. Dit was die gevolg van ‘n ene H Bruinslich se besoek aan Suid-Amerika, waar hy dié wit variant raakgesien en begin invoer het.


Pretoria se heel eerste jakarandas by Sunnyside Laerskool

Onkruid
As ‘n ingevoerde spesie, is jakarandas deur die parlement as ‘onkruid en indringerplant’ geklassifiseer. Die plan was om die nagenoeg 70 000 jakarandas langs Pretoria se strate te vernietig, maar petisies is geteken en ingedien en dit is besluit dat dié jakarandas in ‘n aparte kategorie geplaas moet word. Dit het die stad in staat gestel om bestaande bome te behou, maar hulle mag nie nuwe jakarandas aanplant nie.

Cullinan se jakarandas en ander sypaadjiebome ressorteer ook deesdae onder Tshwane. Dit is ‘n ernstige oortreding om enige boom of plant op munisipale grond uit te haal.

 

© 2024 Die/The Bronberger