Heroïen, kokaïen en morfien in toeka se doepa teen kwale PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Wednesday, 25 January 2012 06:03
Untitled Document

Sny jou baba tande? Wat van ‘n bietjie morfien? Sukkel jy met ‘n kuggie? Dan is heroïen of chloroform net die ding vir jou. Vir pyn word opium aanbeveel en daar is selfs spesiale asma sigarette en medisinale tonikums wat spog met ‘n uitskop kombinasie van alkohol en kokaïen.


“Kan ek dit help as ek moeg is” – ‘n Advertensie vir Dr Williams se Pink Pille in ‘Die Brandwag’ se Mei 1959 uitgawe

Klink verregaande? Wel, patente medisyne wat dié verslawende middels bevat, kon tot in die 20ste eeu op enige dorp in die wêreld oor die toonbank gekoop word. Chloroform is selfs tot 1976 in produkte soos hoesstroop, tandepasta en salf gebruik.

Eintlik is ‘patente’ soos ons die woord vandag ken, die verkeerde benaming vir dié soort medisynes. In die meeste gevalle is dié sogenaamde medisynes as handelsmerke geregistreer, maar nie gepatenteer nie omdat alle bestanddele in die patente-proses onthul moes word. Latere toetse het aangedui dat sommige van die medisynes niks anders as gegeurde water was nie. As dit nie vir jou gehelp het nie, kon dit darem geen skade doen nie.


‘Ayer’s Cherry Pectoral’ is voorgeskryf vir verkoue, hoes en alle siektes van die keel en longe. Dit het blykbaar morfien of heroïen bevat

Gevaarlik
Tog was sommige patente medisynes verslawend, baie gevaarlik en in opgetekende gevalle, dodelik. Gesondheidstonikums het oor die algemeen hoë persentasies alkohol bevat. Produkte wat babas moes kalmeer het voor die voet morfien bevat. Bykans alle hoes-onderdrukkers het heroïen bevat, en kokaïen was ‘n algemene bestanddeel in tandpyndruppels, skilferwerende middels en medisinale tonikums. Dié middels is in die vroeë 1900’s algemeen oor die toonbank verkoop.


‘Mrs. Winslow’s Soothing Syrup’ was vir kinders wat tande sny en het 65 mg morfien per ons bevat

Medisynes wat adverteer het dat hulle “vroulike probleme” behandel, het glo die grootste vroulike klagte, bekend as “vroeë swangerskap” behandel. Hulle het produkte bevat wat vrugafdrywing tot gevolg gehad het.

Aan die einde van die patente medisyne-bedryf se gloriejare het ‘n verskeidenheid radio-aktiewe medisynes op die mark gekom. Hulle is bemark as uraan of radiumryke produkte. ‘n Hele paar van die medisynes se gebruikers het omgekom.


Dr Mackenzie se Venoids laat die “kaatjie van die baan” “so fiks soos ‘n vis” voel. Die advertensie was in ‘Rooi Rose’ se Februarie 1961 uitgawe

Bemarkers van patente medisynes het aangevoer dat hulle enige kwaal onder die son kan genees. Daar was selfs in die laat 19e en vroeë 20e eeu in Brittanje ‘n dr Ebeneezer Sibley wat geadverteer het dat sy produk, blykbaar ‘n soortvan ‘son-ekstrak’, onder andere “lewe kan terugbring in die geval van skielike dood”.

Geen wonder dat die term ‘patente medisyne’ geassosieer is met kwaksalwery nie. Tog het die aanhangers van die medisynes daarby gesweer en dié in Suid-Afrika was geen uitsondering nie.
Van Riebeeck


Carter’s se Klein Lewerpille is een van die produkte wat aangepas is en vandag nog op die mark is. Die advertensie was in ‘Die Brandwag’ se Maart 1959 uitgawe

Westerse medisyne het in 1652 saam met Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom met die daarstel van ‘n verversingstasie. Van Riebeeck het self ‘n mediese agtergrond gehad en het die titel ‘sieketrooster’ gedra. Hy is opgelei as ‘n barbier-snydokter en was die eerste Westerse dokter en tandarts aan die Kaap, hoewel hy blykbaar nooit hier as sulks gepraktiseer het nie.


Vin Mariani wyn is een van vele voorbeelde waar ‘n mengsel van kokaïen en alkohol as ‘n tonikum verkoop is

Vroeë medikasie het swaar geleun op voorbereidings wat saamgestel is deur Hollandse aptekers. Aanwysings vir die gebruik van dié konkoksies is in ‘n lapkis op Hollandse skepe gebêre. Met hulle aankoms aan die Kaap het die skeepsdokters in kontak gekom met tradisionele Khoi medisynes en ‘n unieke kombinasie van skeepsdokter- en Khoi-rate het na vore gekom.

Die gebrek aan maklik bereikbare dokters het gemaak dat elke setlaar aan die Kaap self-diagnose verkies het en net in uiterste gevalle ‘n dokter geraadpleeg het. In 1812 het ‘n dokter op Swellendam geskryf dat niemand in daardie wêrelddele ooit sal kan oorleef as hulle ‘n gewone mediese praktyk probeer bedryf nie. Hy het bevestig dat die kolonie se inwoners groot vertroue gehad het in ‘n kombinasie van kruie, Boererate en patente medisyne. Die meeste huise het ‘n huisapteek vol van dié produkte gehad.


“Pantopon Roche Injectable Opium’ is bemark as ‘n betroubare pynverligter


Voortrekkers
Die Voortrekkers het in elke wa ‘n medisynetrommel saamgetrek en ‘n lys van tradisionele huis-medisyne wat in so ‘n trommel gevind kon word, is deur ene Burrows in die Suid-Afrikaanse Mediese Joernaal van Junie 1957 gepubliseer.


Dr Heinz se senuwee-versterker vir slagoffers van ‘senuwees’ in ‘Die Huisgenoot’ se Maart 1959 uitgawe

Dit het die volgende ingesluit: bloedstillende druppels (yster-perchloraat), boegoe-essens, doepa (bensoïen), doepa-olie (balsam van Peru), duiwelsdrek (asafoetida), grouvomitief (ipekakuanha), Hoffmannsdruppels (eter), kinderpoeier (gemaalde rabarber), miangolie (balsam van Peru), pampoensalf (‘n kwikverbinding), rooilaventel, ruitersalf (‘n vorm van kwik), rooiminie (lood monoksied), sinkingsdruppels (‘colchicum’ wyn), staalpille (yster karbonaat), sterksalf (metiel salisilaat), turlington (bensoïen), kanferolie, opodeldok (‘n soortvan seep smeersel), paregorie (‘n kamfer-opium kombinasie), rabarberpoeier, teerolie (kreosoot), en witkinapoeier (kinien sulfaat).


Dr. Batty se asma sigarette het daarop aanspraak gemaak om enige iets van asma tot verkoue en brongiale irritasies te verlig. Dit is nie aanbeveel vir kinders onder ses nie

Sirkus
Toe die Voortrekkers in die 1800s begin trek het, was daar wêreldwyd iets wat net as ‘n medisyne-sirkus beskryf kan word. Dit was baie soos ‘n rondgaande sirkus waar toertjies aangebied is wat die weg gebaan het vir die hoogtepunt van die opvoerings – die medisyne verkope.

Sterk mans het waens getrek en getuig dat hulle krag van dié of daardie soort tonikum of medisyne af kom. Baie kere is die medisyne in dieselfde wa waarin die medisyne-sirkus getrek het, gemaak en gebottel.

Daar was baie mense wat bereid was om getuigskrifte oor die wonderbaarlike werking van patente medisynes te skryf. Dié getuigskrifte is as advertensies gebruik. Die promosie van patente medisyne was die eerste groot veldtogte wat deur advertensie-agentskappe aangepak is en baie van vandag se advertensie- en verkooptegnieke het toentertyd danksy dié produkte begin.


‘Kimball White Pine and Tar’ hoesstroop adverteer ewe trots dat hy chloroform bevat

Daar word selfs gesê dat die bemarking van patente medisyne die sirkulasie van vroeë koerante in die Engelssprekende wêreld die grootste hupstoot gegee het. Teen die 19e eeu was bykans alle publikasies vol van dié soort advertensies. Publikasies wat hulle nie wou plaas nie, het gesukkel om te oorleef.

In 1919 het Mabel Catherine Rex, met die aanmoediging van Eugène Marais, die eerste Afrikaanse vrouetydskrif, ‘Die Boerevrou’, begin. ‘Die Boerevrou’ was gewild onder lesers en kritici, maar die advertensies was skraps omdat Mabel ’n verbod geplaas het op enige iets wat drank of patente medisynes sou adverteer.

‘Die Boerevrou’ is finansieel gedra deur Mabel se man, die regsgeleerde Kenne Malherbe, maar op die ou einde het die skuld so groot geraak dat die publikasie gestaak moes word.

Suid-Afrikaanse tydskrifte wat wel patente medisyne advertensies geplaas het, het gestrek van ‘Die Huisgenoot’ tot ‘Rooi Rose’ en selfs ‘Die Brandwag’.


Lloyd se kokaïen tandpyndruppels

Oopvlek
Die begin van die einde vir patente medisyne was toe Samuel Hopkins Adams in 1905 ‘n artikel genaamd ‘The Great American Fraud’ in ‘Collier’s Weekly’ gepubliseer het. Dit het gelei na die eerste ‘Pure Food and Drug Act’ in Amerika in 1906.  Tog het die wet nie narkotiese middels, alkohol en stimulante in medisyne verban nie. Dit het net voorgeskryf dat dié middels op die produk-etiket gelys moet word. Dié middels is eers in 1936 in Amerika verban en die res van die wêreld het stadig in hulle voetspore begin volg.


Coca-Cola is in die laat 1800’s gemaak as ‘n mengsel van wyn en kokaïen wat as tonikum gedien het

Baie van die vervaardigers van patente medisynes het toe na ‘n ander bedryf oorgeskakel en hulle getuigskrif-bemarkingstyl voortgesit in die sjampoe en kosmetiese sfere.

Sekere handelsmerke het egter besluit om voort te gaan met hulle produkte, maar om die verbode bestanddele te verwyder of om ‘n ander mark te betree. Dit was die geval met handelsmerke soos Bovril, Coco Cola, wat sy alkohol en kokaïen-inhoud vervang het met stroop en kokaplant-blare, en Angostura Bitters, wat nou in skemerkelkies gebruik word.


De Witt se anti-suur poeier in ‘Rooi Rose’ se Februarie 1961 uitgawe

 

© 2019 Die/The Bronberger