Alphia Schutte
Ek soek ’n man. In die Bronberg /
Tiegerpoort-gebied. En ek weet
baie van hom af. Hy ry ’n bakkie
en hy drink Carling Black Label. Hy
is baie lief daarvoor.
Af en toe drink hy ook Savannahs.
En selfs toeskroef bottels Coke en
Fanta, maar nie so baie daarvan
nie. Die man wat ek soek lees ook
die Huisgenoot en eet maar min
wegneemetes. Hy het ook ’n nuwe
rekenaar want die oue het hy in
die bos naby ons hek gelos.
Verder, ek dink dis dieselfde man,
het hy ’n groot hoeveelheid vrot
eiers eens op ’n tyd besit. Dié het
hy ook in dieselfde bos by ons hek
gelos. Dis nou die bos waar ek en
ander deur stap en fietsry.
Die man het ’n ruim voertuig, want
g’n mens kan so ’n hoop rommel
saam met hom dra nie. Dis ’n
groot bakkievrag vol. Dit is nie net’n handvol papiere nie. Die man
wat my gedagtes besig hou, moet
ook in die Tiegerpoort/Bronberggebied
bly want anders sal hy nie
van die bos weet nie.
Wat doen ’n mens met so ’n man?’n Man wat ver ry om sy gemors in
die bos by jou hek af te laai. Weet
die man nie van vullisverwyderaars
of dat dit nie ‘cool’ is om die aarde
te besoedel nie? Het die man nog
nie van ‘carbon footprints’ en die
groenbeweging gehoor nie?
Ons betaal baie min aan Kungwini
Stadsraad – ons kry ook baie min -
so hy behoort fondse te hê vir die
wegry van sy afval. Hoekom laai
hy bakkievragte vol vullis in die
bos by ons hek af?
Ek voel oor die man soos ’n mens
oor ’n reeksmoordenaar voel. Ek
wil van hom ’n profiel saamstel en
uitvind hoe sy kop, sy binneste en
sy gewete werk. Wie dink hy moet
sy gemors optel? Seker iemand
anders wat hou van ’n skoon bos.
En die iemand anders moet ’n
voertuig en baie hande hê om te
help. Ons het al vantevore sy
gemors opgetel. Maar dit het hom
nie afgeskrik nie. Hy het weer vir
ons meer as ’n bakkievrag se
gemors gelos.
Die boer in my lewe sê, “Hoe
weet ek dis ’n man?” Ek het goeie
rede om te weet dis ’n man. G’n
vrou sal so ver ry om rommel vir
iemand anders te los nie. Vrouens
is gewoond daaraan om agter
hulle skoon te maak.
En die tweede rede is omdat
Jackie ’n week voor sy dood vir
my gesê het hy sal my gaan wys
waar die man wat die rommel in
die bos net buite ons hek aflaai,
bly. Jackie was net so erg soos ek
oor die sonde van rommelstrooi.
Hy het altyd help skoonmaak in
die bos.
Mense kom stap daar en veral vir
die fietsryers wat probeer wegkom
uit die stad uit, moet dit aaklig
wees om deur so ’n hoop rommel
te ry. Die rommel versprei ook.
Die wind waai dit en diere krap
daarin rond. Genadiglik laat die
baie reën die vrot eiers wegsmelt.
Nou is Jackie met die inligting oor
die bosrommelaar dood. En ek
probeer hard om uit te vind wie
die man is en hy sal baie jammer
wees as ek hom opspoor. Ek sal
ons grootste trok neem en al die
rommel op sy voorstoep gaan
aflaai.
Ek is so kwaad vir hom, ek sal sommer’n klomp beesmis saamneem,
en dit ook daar gooi. Miskien is
die beesmis nie reg nie. Dalk maak
hy lekker tuin daarmee. En ek wil
mos hê hy moet ly.
Meneer met die bakkie en die
rommel, weet net ons hou jou
dop. Jy gaan nie weer hiermee
wegkom nie. Ek het nuwe spioene
gekry. Sonyboy en Poppie en
Doreen en al wat ’n kind is wat
naby die hek bly, hou jou dop. En
ek is groot en kwaai. Pasop! |