Blink jaar vir besigheid in die Bronberg voorspel Print E-mail
News - Artikels
Wednesday, 25 January 2012 08:01
Untitled Document

Sakelui van die Bronberg-gebied waarmee ons gesels het, is deur die bank positief en opgewonde oor die vooruitsigte vir 2012. Hulle glo die ‘maer jare’ is verby en dat dié jaar die begin van ‘n nuwe era van voorspoed sal inlei.


Robert Denton van De Tweedespruit bedryf saam met sy vrou, Lientjie, ‘n restaurant op Cullinan. Die Dentons vervaardig ook unieke meubelstukke. Volgens Robert twyfel hy nie vir ‘n oomblik daaraan dat 2012 sommer ‘n blink jaar vir besigheid gaan wees nie. Trouens, hulle het reeds groot bestellings en besprekings gekry, sê Robert. Argitekte wat naby hulle bly, is vir die eerste keer in ‘n lang tyd skielik toegegooi onder die werk. Trekkerverkope en die verkope van Rolls Royce het gestyg, sê Robert, en dit dui beslis daarop dat die groot geld weer begin werk soek.


Sylvia Jonsson van die Bafana Kontantwinkel in Zwavelpoort meen die tekens van ‘n beter jaar is klaar sigbaar. “O ja, hierdie gaan beslis ‘n fantastiese jaar wees,” sê Sylvia. Sy dink die mense wat in die moeiliker tye vasgebyt en deurgedruk het, sal nou begin om die vrugte te pluk. Hulle is gelukkig om ‘n fantastiese groep gereelde klante te hê wat hulle altyd, selfs in die stiller tye, ondersteun. Maar by Bafana sien hulle uit na ‘n wonderlike nuwe jaar.


Gert van der Walt, wat betrokke is by Rafters in Garstfonteinweg-verlenging, digby Mooikloof, sê die sewe maer jare is verby en 2012 gaan die eerste van ‘n aantal lekker vet jare wees vir almal. Gert is baie opgewonde oor die vooruitsigte vir die jaar. Hy sê hy was lanklaas só positief oor ‘n nuwe jaar. By Rafters is hulle vol nuwe planne om van dié gewilde Bronbergse kuierplek ‘n nog lekkerder uitspan- en vermaakplek te maak. Hou dié spasie dop, sê Gert.


Dirk Marais van Blyfontein kwekery op Zwavelpoort langs Lynnwoodweg-verlenging sê alles dui op ‘n goeie jaar vir hulle. Dié afgetrede generaal sê almal by Blyfontein sien met blye opgewondenheid uit na die jaar. Die oes van nuwe bome en plante was fantasties en jy kan maar sê hulle is nou op “volle kapasiteit”. Dit beteken dat hulle in staat is om met uitverkopings produkte teen baie laer pryse aan hulle gewaardeerde klante te lewer. Hy verwag ‘n ware gehalte-jaar, sê Dirk.


Theunette Shubert van Rietfontein voel uitsonderlik positief oor 2012. Theunette is ‘n eiendomsagent en die eienaar van Die Hoek restaurant op die hoek van die ou Bronkhorstspruit- en die Raytonpad. Theunette sê sy is baie opgewonde daaroor dat dit uiteindelik lyk of die eiendomsmark wil begin “draai”. Reeds in Desember het dinge in dié mark, wat die afgelope jare erg afgeplat het, tekens van oplewing begin toon. “Skielik is daar weer belangstelling en navrae,” sê Theunette. Sy sien uit na ‘n wonderlike jaar en voorsien dat besigheid in die algemeen ‘n bloeitydperk binnegaan.


Vir Karel Pieterse van Rayton se Biltong en Braai hou die nuwe jaar baie nuwe projekte, nuwe uitdagings en nuwe uitbreidings in. Hy sien uit na 2012 en is vol moed dat dit sommer ‘n baie goeie jaar vir besigheid gaan wees.


Carl Coetzee van Soleil Rose op Tygervallei sê ‘n mens moet positief wees anders het jy verloor voor jy begin het. Hy meen 2012 sal ‘n goeie jaar wees. Ook Carl sê dat tekens van beter tye wat voorlê, reeds in Desember begin wys het. By Soleil het hulle ‘n baie goeie Desember beleef. Die klimaat en reënval is ‘n bietjie vreemd sover hierdie jaar, maar hulle glo dat die voorraad desondanks betyds gereed sal wees vir ‘n baie suksesvolle Valentynstydperk.


Wilma Fourie van die Klubhuis Restaurant by Kitty Hawk in Boschkop sê sy is seker 2012 gaan die beste jaar denkbaar wees. Sy’s baie positief oor die vooruitsigte, sê Wilma. Verskeie funksies is reeds bespreek vir hulle kuierplek en hulle gaan hulle eerste troue behartig sedert hulle die plek redelik onlangs oorgeneem het. Dit lyk ook vir haar of die ou besoekers weer opdaag en of nuwe gesigte ook aankom. En almal wat tot dusver vanjaar by Kitty Hawk kom kuier, is positief oor die jaar wat voorlê.


Richard (Rickie) Freeman, wat betrokke is by die mini-mark in die Rykor sentrum op Mooiplaats, meen dit sal ‘n goeie jaar wees. Volgens hom is die ergste van die resessie nou verby en begin dinge weer “optel”. Oral waar hy met mense in die Bronberg-gebied praat, is hulle positief oor die jaar. “Die ouens wat die laaste paar jaar kon oorleef, kan nou uitsien na beter dae,” sê hy. “Die mense wat gegryp het na groter roeispane as die golwe groter geword het en net aanhou roei het, kan hopelik nou op kalm waters begin vaar,” sê Rickie.

 

© 2024 Die/The Bronberger