Op die regte spoor met kinderparadys PDF Print E-mail
News - Vreethans
Wednesday, 25 January 2012 05:58
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel maak gereeld ‘n draai by verskillende kuierplekke in die Bronberg-gebied en betaal self vir dit wat hulle geniet – of dalk nie geniet nie.

Aan die voet van die Bronberg, vlak langs Lynnwoodweg-verlenging, het Justin en Elize Irvine hulle Zwavelpoort-plot in ‘n kinderparadys omskep. In dié proses het hulle ‘n (gesonde) pretplek op die been gebring waaroor elke ouer met onderdak-kinders baie bly en innig dankbaar behoort te wees. Dit sou nie onvanpas wees om ‘n medaljetoekenning aan die Irvines te maak nie.

Want hier kan die kleingoed en die groter goed - weg van die aai-podde en die aai-padde en sonder die lêptoppe, die mieks-ietse en die vleisboeke en ver van die twitte en die twatte en die tievie en die groot dorp se malle en sy môlle – speel en ervaar soos wat kinders bedoel is om dit te doen: Buite, onder die blou hemel, in die natuur.

En dié van ons wat nie meer heeltemal kinders is nie, kan saamspeel, of net die amptelike kinders se lekkerkry dophou en daaroor nostalgies raak en droom, of ons daarin verlustig, terwyl ons die lekkerste koffie (miskien) oos van Hans Strijdom en ‘n ietsie te ete op die dek-vanwaar-jy-alles-kan-dophou, sit en geniet.


Dis nog ‘n stywe ent stasie toe en nog baie tyd om te loer wie vandag ook die trein gehaal het

Hulle noem dit Cedar Junction. Die Junction, oor daar ‘n treintjie (eintlik meer as een) op ‘n kronkelspoor met ‘n wye draai om die plot sirkel (kinderhemel) en ‘Cedar’ oor -  net Justin en Elize sal weet hoekom.

Dis ‘n waterryke hoewe, dié een tussen Dirk en Pine se kwekeryplot en die plot waar Geel Harry destyds padgruisgate met bourommel opgevul het. Op Cedar Junction se plek is soortgelyke uitgrawings vandag pragtige damme. Daar kan jy (en die kleingoed) met baaisiekeltrap-bootjies rustig en op jou tyd verken en eersdaags, só verneem ons van die baie geesdriftige bestuurder, kan jy dalk ‘n hengel-lyntjie natmaak, of ‘n ander roete per ponie aanpak.

Die kortvolk kan met trapkarretjies of –fietsies (skopfietsies vir die heel kleintjies) op ‘n baan of elders besig bly, met bergfietse ‘n meer uitdagende roete volg, in die groot ooptes of sokkerveld speel of meeding, klimrame en/of springkastele aandurf, winkel-winkel in die kamma-kêffie speel, of sommer in die oopte net kindwees. Ek en Metgesel het (net ter wille van die volledige navorsing vir dié rubriek, natuurlik) gebrand om ook op die treintjie te loop ry.

Eers het ek gedink ons sal iewers iemand se kleintjie moet leen om saam met ons te ry sodat ‘die mense’ nie snaaks dink nie, maar toe sê vriendelike bestuurder ons is welkom om ons soos kleintjies te gedra en sonder ‘n geleende kind die trein te haal. Toe ons ná die rit van goed oor ‘n kilometer die stasietjie instoom, was ek regtig lus om saam met die sproetneus hier voor ons ‘n vloermoer te gooi oor dit verby is.


Kinderparadys aan die voet van die Bronberg

Maar eintlik is ek en Metgesel mos op dié mooi Sondag teenwoordig om ‘n ietsie vir die innerlike te geniet. Die plek het ‘n baie ‘grênd’ koffiemasjien wat bone per keuse en per koppie maal. Ons het uit pure onkunde sommer lukraak gekies en werklik (vir my) die lekkerste koppie (of drie) koffie in ‘n baie lang tyd ervaar.

Hulle noem die netjiese kuierplekkie die ‘Whistlestop Coffee House Café’ en van sy dek af kan jy die bedrywighede van die groeiende mensies oral dophou of jy kan diékant toe kyk hoe die watervoëls hulle op ‘n dammetjie besig hou.

Hulle bedien ‘n keuse van vyf ontbytborde waarvan vier net R30 kos en die groot een met die naam van ‘Steamer’ R50. Dit is buiten die omelet-verskeidenheid. Koeke en terte, pannekoeke van allerlei aard, geroosterde broodjies en burgers en uiteraard ‘n kinderkeuse, sorg grootliks vir die res van die spyskaart.

Jy kan kies of jy jou Hamburger met skyfies of slaai wil hê. Ek kies skyfies, al is ek nie ‘n groot liefhebber van skyfies nie, omdat ek selde na slaai smag. Ons bestel. Myne is ‘n kaasburger en Metgesel s’n is ‘n hoenderburger.

Die Hamburgerfrikkadel is redelik skerp gekrui en lekker los. Dit is nie doodgegaar nie. Dit geval my. Ek sou graag ‘n lekseltjie botter of iets op die burgerbroodjie se afgesnyde kopkant wou gehad het. Ek het so amper die afgeskeepte, droë halwe broodjie jammer gekry waar hy eenkant en vergete in die bord lê. Maar die burger is nogtans van die beteres wat jy in ons kontrei kan kry en die ‘tjips’ was lekker.

Metgesel sê haar gehoenderde burger was uit die boonste rakke. Sy het die slaai gekies en later gesê sy is bly sy het.

Ek sal teruggaan Cedar Junction toe. Vir die koffie, vir die Hamburger en vir die treintjie. Maar veral vir die plesier om weer kinders te kan sien wat hulle geniet soos en waar dit hoort.

Die plek is toe op Maandae en Dinsdae. Bel hulle by 012-811-1183 as jy meer wil weet.

 

© 2019 Die/The Bronberger