PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Wednesday, 25 January 2012 07:51
Untitled Document

 ‘n Tergende raaisel slaan voëlmigrasie-kundiges elke jaar steeds stom. Een van ons algemene somerbesoekers, die oostelike rooipootvalk, verdwyn as hy terugvlieg na Asië. Ons weet presies hoe hy hier aankom, maar niemand het ‘n benul hoe hy weer daar terugkom nie.

Een van dié valk se Engelse volksname, ‘Amur falcon’, kom van die naam van sy Asiatiese broeiplek rondom the Amurrivier tussen Sjina en Rusland. Hulle migrasie patroon na Suid-Afrika is duidelik: hulle vlieg ongeveer 11 000 km vanaf die Russiese Steppe oor noordelike Indië en deur die Midde-Ooste.

Dié valke vertrek uit Rusland in Augustus of September en kom in groot swerms in November of Desember by ons aan. Groot groepe van hulle kan dié tyd van die jaar op telefoondrade langs die Bronberg-gebied se teerpaaie gesien word.


Oostelike rooipootvalk mannetjie
Foto: Neil Gray

Hulle bly hier tot die laaste somerreën geval het, gewoonlik tot Maart of April. Wetenskaplikes kan egter glad nie agterkom hoe hulle terug by die Amurrivier beland nie. Een teorie is dat hulle dwarsoor die Indiese Oseaan vlieg en dan oor die Himalajas tot in die Steppe.

Die oostelike rooipootvalk land in groot swerms in Zimbabwe waar tot 5 000 voëls ‘n enkele slaapplek deel. Dié swerms word al hoe kleiner hoe verder suid hulle trek, tot daar soms net familiegroepies oor is teen die tyd wat hulle by ons aankom.

Dié is sosiale voëls wat gemaklik met ander voëls, soos die kleinrooivalk, saamleef. Hulle vreet hoofsaaklik sprinkane, termiete, besies, perdebye en bye, maar sal ook kleiner voëltjies vreet. Hulle jag deur op ‘n telefoondraad te sit en die wêreld te bekyk, en dan af te duik as hulle prooi gewaar.


Oostelike rooipootvalk wyfie
Foto:Tom Beeke

Die oostelike rooipootvalk, falco amurensis, is 30 cm hoog en weeg 135-150 gram. Sy vlerkspan is 58-70 cm. Die volwasse mannetjie se leikleurige verekleed kontrasteer met sy wit ondervlerkdekvere. Hy vertoon ‘n kastaiingbruin band in vlug en het bruin oë. Sy snawel en bene is oranje-rooi.

Die wyfie is net so groot soos die mannetjie, maar haar verekleed verskil baie van syne. Sy het roomkleurige onderste dele met donker stroke; grys boonste dele met ‘n leikleurige kop en roomkleurige voorkop, sowel as stroke en kolle op die vlerke en stert.

Die wyfie en onvolwassenes lyk soos ‘n Europese boomvalk, behalwe vir die roomkleurige voorkop en liggrys kroon. Die wyfie is sonder die rooierige kroon, agternek en onderste dele van die westelike rooipootvalk-wyfie.

Hulle habitat is oop grasveld en hulle slaap in groepe in hoë bome waar hulle teen skemeraand skril roepgeluide maak.

 

© 2019 Die/The Bronberger