Stoomtrein van toeka hervat sy historiese roete Print E-mail
News - Toeka se dae
Wednesday, 14 December 2011 08:36
Untitled Document

Gerugte dat Transnet die historiese stoomtreinritte na Cullinan tot ‘n halt geroep het, is die nek ingeslaan.

Die stoomtrein se aangepaste skedule van uitstappies na Cullinan het op 13 November weer begin. Ongelukkig het iets weer met dié rit foutgeloop en is passasiers vir die laaste deel van die roete met busse na Cullinan vervoer.


Die toekase Zonderwater-stasie

Dié trein het voor dié uitstappie, laas aan die begin van die winter op sy roete voortgestoom en die lang afwesigheid van treinvragte vol toeriste kon aan ondernemings in die toeriste-dorpie se sakke gevoel word.

Die stoomtrein doen gewoonlik nie Cullinan-ritte in die winter nie, oor die brandgevaar wat ontstaan as vonke in die droë gras langs die spoorlyn beland. Die ritte kon egter nie soos elke ander jaar in die lente voortgesit word nie omdat daar glo probleme met die sinjale op dié lyn was.


Lokomotief 3117 by Cullinan

Probleme
Die sinjaalprobleme is volgens ‘n woordvoerder van Friends of the Rail, ’n nie-winsgewende organisasie wat ou stoomtreine restoureer en die daguitstappies reël, nou iets van die verlede.

Die probleem met die diefstal van dwarslêers op dié spoorlyn word aangespreek en die hout dwarslêers word glo mettertyd met beton vervang. ‘n Stoomlokomotief wat waens met honderde passasiers gesleep het, het op ’n 2010 Vadersdag-uitstappie ontspoor omdat dwarslêers naby die Cullinan-stasie onder die treinspoor uitgesteel is.


Die omskepte ou Van der Merwe-stasie

Roete
Die stoomtrein-roete na Cullinan begin by Friends of the Rail se depot by Hercules. Die spoor loop deur Capital Park, Gezina, Villieria en Queenswood voor die Koedoespoort-stasie bereik word.

By Koedoespoort klim die trein op die oorspronklike Nederlandsche Zuid-Afrikaansche Spoor Maatschappijen (NZASM) spoorlyn. Paul Kruger het in die laat 1880’s opdrag gegee vir die bou van die spoorlyn wat president Thomas Francois Burgers beplan het om Pretoria met Delagoabaai (nou Maputo) te verbind.

Die NZASM het ontstaan uit die ZAR se strewe na ‘n eie verbinding met ‘n nie-Britse seehawe ter wille van kontak met die buiteland. Die maatskappy is op 21 Junie 1887 in Amsterdam gestig.


NZASM-huis in Pretoria
Foto: Rosa Swanepoel se Ou Pretoria Nuusbrief

Die NZASM-huis is in 1889 voltooi en bestem as woonhuis vir die hoofingenieur van die NZASM. Die huis se bekendste inwoner was Gerrit Adriaan Arnold Middelberg, ‘n spoorwegingenieur wat in Zurich opgelei is. Hy het in Pruise en Engeland en by die Nederlandse spoorweë in België gewerk en van 1873 tot 1889 hoofingenieur by die Hollandse Ijzeren Spoorwegmaatskappy.

In 1890 het hy mededirekteur van die NZASM geword en saam met sy gesin in Pretoria in die NZASM-huis kom bly tot in 1899. Nadat hy afgetree het is hy deur Kretschmar van Veen opgevolg.


NZASM lokomotief 108 in die 1880’s
Foto: SA-Transport

Lyn
Friends of the Rail se uittog op die oorspronklike NZASM lyn loop deur Waltloo, Silverton, Denneboomstasie, Mamelodi en ‘De Eerste Fabrieken’, so genoem omdat die eerste wettige brandewyn stokery in die Zuid-Afrikaansche Republiek op die plaas Hatherley langs die Pienaarsrivier gebou is. Die fabrieke het baie van toeka se kleurvolle karakters byeengebring; van Barney Barnato tot sakemanne Isaac Lewis, Sammy Marks en Alois Hugo Nellmapius.

By Panpoort klim die spoorlyn deur die koppies en kom by Van der Merwe (vandag net gemerk deur ‘n elektriese sub-stasie) uit. Blykbaar is die oorspronklike lyn geskuif sodat dit deur Elandshoek loop.

Die geboue van die oorspronklike Van der Merwe Stasie is vandag op Getaway Farms in die Rayton/Cullinan distrik. Dit behoort aan Trevor van Luik, wat dit van sy pa Bob geërf het.

Die stoomtrein hou stil op Rayton-stasie om die gegraveerde hout treinstaf, wat veilige toegang tot die 11 km-lange Cullinan tak-lyn bied, op te laai. Dié tak-lyn het blykbaar nooit sinjale gehad nie en dié eenvoudige houtstaf verseker veiligheid deur ‘n enkele trein op ‘n slag toe te laat om die spoorvertakking te gebruik.


Mededirekteur van NZASM, Gerrit AA Middelberg en sy vrou, Leopoldina
Foto: Rosa Swanepoel se Ou Pretoria Nuusbrief

NZASM personeel by die driekleur ‘Tandrad’-lokomotief
Foto: Zuid-Afrikahuis

Dié vertakking is in 1905 gebou om die destydse Premier Diamantmyn te bedien. Hy is glo nooit volgens hooflyn standaarde gebou nie, so die trein kan nie vinniger as so 20 tot 30 km per uur daar ry nie.

Blykbaar was daar in die Tweede Wêreldoorlog ook ‘n Zonderwater-stasie wat die krygsgevangekamp bedien het.


Aanleg van die NZASM spoorlyn by die Lourenco Marques se hawe
Foto: Zuid-Afrikahuis

Standaarde
Uiteindelik stoom die trein die Cullinan-stasie met sy oorspronklike sinkgebou en perron, binne. Die Cullinan-stasie se bouwerk het in 1906 begin en is in 1907 voltooi.

Friends of the Rail se stoomtrein ekskursie na Cullinan vertrek om 8.30 vm vanaf Hermanstad. Die trein vertrek weer om 3 nm vanaf Cullinan en kom gewoonlik rondom 5.30 nm in Hermanstad aan.

Kaartjies kos R175 vir volwassenes, R150 vir pensioentrekkers, R125 vir tieners, R100 vir kinders van sewe tot 12 jaar oud, en R75 vir kinders van twee tot ses jaar. Kinders onder twee jaar oud ry gratis.

Vir meer inligting besoek www.friendsoftherail.com, stuur ‘n e-pos aan This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of skakel 012-767-7913, 082-098-6186 vir normale uitstappies of 012-767-8145 of 082-293-4616 vir werkuitstappies.


Dag-uitstappies in ‘n historiese stoomtrein

.

‘n Opedag wat onlangs by die Hermanstad-stasie gehou is
 

© 2024 Die/The Bronberger