Vreeslose slangvanger word te maklik mak PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Wednesday, 14 December 2011 08:30
Untitled Document

Die oumense het hulle sommer almal meerkatte genoem. Boere het baie respek vir hulle vreeslose slangvang-manewales en plotbewoners het ontdek dat dié slim en nuuskierige diertjies heeltemal te maklik mak word.

Gebande muishonde maak wonderlike troeteldiere, tog word mense afgeraai om hulle mak te maak. Dit is nie raadsaam om wilde diertjies te onderwerp aan die probleme wat hulle in die gesig staar in ‘n omgewing waarin hulle nie pas nie. Daar is natuurlik wetlike voorskrifte om só 'n dier buite 'n bewaringsgebied aan te hou.

Dit is ook moeilik om dié muishond se natuurlike dieet vir hulle te gee. Hulle vereis onverdeelde aandag en kan nie soos gewone troeteldiere by bure of familielede gelaat word as ‘n mens vir vakansie weggaan nie.


Gebande muishonde kan op hulle agterpote staan
Foto: Edwards & Boyd’s Safari

Die gebande muishond het ‘n aantal unieke karaktertrekke wat hom baie anders as die meeste diere maak. Hy is ’n sosiale dier en bly gewoonlik in groepe van vyf of selfs tot meer as 40. So ‘n groep beskerm siekes, verswakte oues en onbeholpe jonges.

Miskien is dit omdat so ‘n groep volgens ‘n matriargale sisteem werk. Die groep sorg nie net saam vir die kleintjies nie, maar gee spesiale aandag aan invalides en oues, wat getroetel, skoongemaak en eerste toegang tot kos gegee word.

As die groep in gevaar is, sal hulle vir ‘n vinnige en maklike ontsnappingsroete soek. As dit nie moontlik is nie, groepeer hulle saam en druk die jongste en swakste muishonde na die middel van die groep.

‘n Groep gebande muishonde is nomadies in ‘n gebied van ongeveer 80 hektaar. Die grootte van die gebied hang af van die hoeveelheid groeplede en die beskikbaarheid van kos. Die grense word deur alle groeplede gemerk deur afskeidings uit ‘n anale klier.


Glad nie kamera-sku nie, loop dié muishond ewe kalm op die stoep rond

Hulle gebruik gewoonlik uitgediende skuilings van ander diere, soos erdvarke of springhase. Dié skuilings word dikwels net vir ‘n paar dae gebruik voor die groep na ‘n volgende skuiling in hulle gebied aanbeweeg.

Gebande muishonde maak aanhoudende piepgeluide wanneer hulle met mekaar kommunikeer. Hulle bly meestal op die grond, maar kan goed boomklim en swem om van gevaar te ontsnap. Dié gediertetjies is baie lief vir water en sal in water speel of sommer in vlak poele lê en rus. Nog ‘n vreemde ding is dat hulle baie kere saam met bobbejane jag.

Hulle reuksintuig is besonder goed en hulle snuffel gewoonlik prooi uit en vang dit met hulle lang kloue. Die voorpote het vyf tone, elk met 'n lang, geboë klou wat gebruik word om te krap of in die grond te grawe. Die agterpote het vier tone wie se kloue swaarder, korter en minder geboë is.


Dié groepie muishonde woon onder een van Cullinan se historiese sinkhuise in Oaklaan

Gebande muishonde se stapelvoedsel bestaan uit insekte, maar hulle vang ook soms klein soogdiertjies, soos rotte en muise, asook slange, akkedisse en voëls, en vreet eiers. Tog sal hulle nie huiwer om hulle dieet aan te vul met wilde vrugte nie.

Die manier waarop hulle kos benader wys hoe  inteliggent dié diertjies is. Kos wat harde doppe het, soos eiers of slakke, word of in die lug op gegooi, of sommer tussen die agterpote deur, teen 'n klip.
Giftige goed word ook eers vooraf behandel. Prooi met giftige stekels, omhulsels of velafskeidings, soos paddas, word in die grond rondgerol tot die stekels of velafskeidings afgevryf is.

Die gebande muishond, Mungus Mungo, kry sy naam oor die duidelike strepe of bande wat dwarsoor sy lyf strek. Die strepe is donker en kontrasteer met die ligter kleur van die res van sy pels. Sy pote en die punt van sy stert is gewoonlik donker. ’n Volwasse gebande muishond is 65 cm lank. Sy stert is ongeveer die helfte van sy liggaamslengte.


Die gebande muishond
Foto: Wikipedia

’n Wyfie is vir twee maande dragtig en kry twee tot ses kleintjies wat blind gebore word, met baie min hare. Hulle kan na 10 dae begin sien en kry binne twee weke 'n jeugdige pels.

Geboortes word dikwels gesinchroniseer in 'n kolonie, sodat verskeie wyfies 'n paar dae uit mekaar geboorte skenk. Kleintjies kan aan enige wyfie soog en word deur alle groeplede rondgekarwei. As die groep die skuiling verlaat om te gaan prooi soek, sal een wyfie vir elke agt kleintjies agterbly om na hulle om te sien. Daar bly gewoonlik ook ‘n volwasse mannetjie agter om na die kleintjies en wyfies te kyk.

Die kleintjies sal die skuiling vir kort ekskursies begin verlaat as hulle so vier weke oud is. Teen vyf weke begin hulle saam met die volwassenes prooi soek.

’n Gebande muishond kan 12 tot 13 jaar oud word, maar minder as die helfte van die kleintjies oorleef tot 'n ouderdom van drie maande.

 

© 2019 Die/The Bronberger