PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Wednesday, 14 December 2011 08:17
Untitled Document

Wildedagga se naam behoort jou ‘n goeie idee te gee van dit wat alles met dié plant gedoen kan word. As een van die sogenaamde wysheidsplante strek sy roem al eeue lank ver en wyd.

Dié plant, wat ook bekend staan as duiwelstabak, is deel van die kruisement-familie. Die meeste spesies in die familie het verskeie tradisionele gebruike, maar wildedagga vat die spreekwoordelike koek. Sy blare, bloeisels en blomblare word vandag nog gebruik om medisyne te maak; hy word gerook; daar word wierook, ‘n mentagtige tee en selfs seep van hom gemaak; en hy word blykbaar gebruik om slange weg te hou.


Bykans alle dele van die plant word gebruik om tradisionele medisyne te maak

Tradisioneel
Wildedagga word tradisioneel gebruik as medisyne vir koors, hoofpyn, hoes, borskwale, verkoue, griep, buikloop, epilepsie, hardlywigheid, wurms en hoë bloeddruk. Dit word ekstern gebruik om veluitslag, ekseem, pitswere en aambeie te behandel.

‘n Eksperimentele studie op diere dui daarop dat dié plant anti-inflammatoriese kwaliteite het, kan help om bloedsuiker te verlaag, dat dit die sentrale senuweestelsel kan beïnvloed en dat hoë dosisse in rotte ‘n giftige invloed het op organe, rooi- en witbloedselle.


Só lyk wildedagga se sade

Dit is glo hoekom aftreksels van dié plant kan help vir sekere soort diabetes, rumatiek en ander inflammatoriese toestande en hoekom dit gebruik word as teenmiddel teen slang-, skerpioen- en spinnekopbyte.

Wildedagga se gedroogde blare en blomblare het ‘n matige kalmerende effek wanneer dit gerook word. Dit is ook al aangeteken dat sekere gebruikers ‘n matige euforie, visuele veranderings, lighoofdigheid, naarheid en sweet ervaar. Dié duiwelstabak het egter ‘n baie slegte smaak en irriteer die longe en keel.


Gedroogde blomblare

Leeu
Wildedagga, Leonotis leonurus, kry sy naam van die Griekse woord waar ‘leon’ leeu beteken en ‘otis’ oor. Vandaar sy Engelse naam ‘lion’s ear’. Die ‘leonurus’ deel van sy naam beteken leeu-kleurig.

Wildedagga is ‘n geharde struik wat twee tot drie meter hoog kan word. Hy kom algemeen dwarsoor Suid-Afrika se graslande voor. Die stamme is fluweelagtig en houtagtig teen die basis. Die blare is lank, smal en getand; grof aan die bokant en fluweelagtig aan die onderkant.

Dié plant blom in die herfs met kenmerkende helder oranje blomme wat in trosse teen die blomstam gedra word. Daar is ook plante wat appelkooskleurige en wit blomme dra. Die blomme het oordadige hoeveelhede nektar wat bye, skoenlappers en nektarvretende voëls, soos suikerbekkies, lok.

Wildedagga groei vinnig en is bestand teen ryp. Hy het nie baie water in die winter nodig nie en is maklik om te groei van saad, lote of om die plant te verdeel.


Wildedagga lok skoenlappers, bye en nektarvreters soos suikerbekkies
Foto: BudOhio

 

© 2019 Die/The Bronberger