Lekker kuier op ?n mooi plot PDF Print E-mail
News - Vreethans
Thursday, 17 November 2011 06:06
Untitled Document

Op ‘n mooi Mooiplaatsplot, na Donkerhoek se kant toe, het ‘n groepie mense koppe en geesdrif bymekaar gegooi om ‘n baie uitsonderlike naweek-kuierplek te maak.

Hulle noem dit Rosemary Hill. Roosmaryn is maar een van die gewasse wat organies op die plaas verbou word. Van die ander is Afrika aartappel, Sutherlandia (nee ek weet ook nie), laventel, Artemisia en nog wat. Jy kan van dié verwerkte produkte aankoop, die kwekery of antiekware-winkel besoek, gaan bergfiets ry of met wandelroetes stap of in ‘n reuse labirint (maze) loop verdwaal.

Of jy kan natuurlik, soos ons, rustig op een van die stoepe of onder die afdakke in die groot tuine gaan plaasneem en ontbyt geniet. Jy kan ook heeldag ligte etes bestel of jy en ‘n groep vriende of vriendinne kan loop ‘high tea’ geniet. Rosemary Hill spesialiseer in dié gedoente en volgens Malcolm, wat dié dag vir ons kelner speel, is dit baie gewild en kan hulle skaars voorbly om die ‘haai tie’s’ aan te lê. Die tafels wat vir ‘n stuk of vier van hulle vir later die dag voorberei is, lyk vir my keurig, prettig en stylvol.


‘n Mooi stoep vir ‘n lekker ontbyt

Maar ons doen ontbyt. Die spyskaart wys die gewone ‘farmhouse’ met eiers, spek, tamatie, sampioene, uie en vars brood. Dit kos R48. Metgesel bestel een sonder die spek en wors. Jy kan ook twee Franse roosterbrode met kaas en stroop teen R30 bestel, of ‘n keuse van omelette, R48 of R55, of die ‘crumpet stack’ met spek, kaas en stroop beproef. Ek doen die plaatkoekie stapel en vind dit ‘n aangename alternatief van my gewone Ingelse ontbyt-voorkeur. Dit kos R30.

Eetgoed wat die hele dag bedien word sluit in: Biltong en peppadew-tert met slaai, botterbroodjies, Rosemary Hill se slaai van die dag, peri-peri hoender en kaas Prego, varsgebakte koeke en die ‘Big Burger’ en skyfies.

Dis veral die atmosfeer en vreedsaamheid van die plek, wat my weer ‘n draai by Rosemary Hill sal laat maak. Ek gaan nie probeer pad beduie nie. Bel hulle by 083-235-6857 of 012-803-0052.  

 

© 2019 Die/The Bronberger