Arie onthou Cullinan se troetel-leeu PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 17 October 2011 08:00
Untitled Document

Elsabé Maré

In die dertiger jare het ‘n troetel-leeu, genaamd Oubaas, koning gekraai in Cullinan. Dié leeu het kar gery en was die punt van sy eienaar, een van Cullinan se twee prokureurs, se hart.

Arie Minnaar is een van die min mense wat dié leeu vandag nog onthou. Arie se familie het in 1859 die plaas Elandsfontein, waar Cullinan se diamante later gevind is, afgebaken. Die legendes van die mense wat dié myndorpie hul tuiste genoem het, het oor die jare deel van die Minnaars se arsenaal staaltjies geword.


Arie Minnaar met ‘n teekoppie waaruit gesnorde mans in die dertiger jare tee gedrink het. Die halfmaan-randjie in die koppie het teen die snor gedruk en die gleuf het die tee deurgelaat sonder dat die snor nat word

Arie onthou dat Cullinan in die 1930’s twee prokureurs gehad het, menere Coetsee en Malony. Sy kinderdagse herinneringe lewer egter geen voorname op nie. Die menere het graag in die winter gaan jag. Met een van die jagtogte kom hulle op ‘n  leeuwyfie in ‘n strik af. By haar was drie welpies. Die wyfie was erg beseer en hulle moes haar van haar lyding verlos. Tog kon hulle die welpies nie agterlaat nie. Meneer Coetsee vat die mannetjie en die twee wyfies gaan na meneer Malony.

Op die Coetsee-werf is die mannetjie mak grootgemaak en het die naam Oubaas gekry. Arie en sy broer Willie het gereeld op dié werf gekom om by Wiekie Coetsee te gaan speel. So het hulle op ‘n Sondagmiddag as die ouer garde dut, skelm vir Oubaas aan sy leiband vir ‘n stappie geneem.


In die 1930’s was dit blykbaar nie vreemd om met ‘n leeu aan ‘n leiband rond te loop nie. In die 1936 film ‘The Milky Way’ loop ‘n karakter, Burleigh, met ‘n troetel-leeu aan ‘n leiband by ‘n hotel in

Dit was met een só uitstappie dat Oubaas losgeruk het en ‘n donkie wat daar naby gewei het, aan die nek gegryp het. Wiekie se pa moes uit sy Sondagsluimer gesteur word om Oubaas van dié donkie af weg te kry. Dit is toe dat die Coetsees besluit het dat Oubaas nie meer uit sy draadkamp by die boord gelaat mag word nie.

Een dag het trekmuile wat in die myn gebruik is te naby aan Oubaas se kamp op die soetgras kom wei en toe was die gort gaar. Die ogiesdraad het onder Oubaas se gewig meegegee en hy het ‘n muil aan die keel beetgekry.

Die paar nuuskieriges wat in die omgewing was, het luidkeels aan die skree gegaan. Een van hulle het meneer Coetsee by sy prokureurskantoor gaan roep. Hy het Oubaas terug in sy kamp gaan sit, maar het geweet dat hy sy geliefde leeu gaan verloor.

Die myn se reëls was streng en hy moes Oubaas na die Pretoriase dieretuin neem. Die ooreenkoms was egter dat hy die leeu persoonlik moes aflewer. Dit was makliker gesê as gedaan.


Cullinan se troetel-leeu is in ‘n Oldsmobile, soortgelyk aan dié afbeelding van ‘n 1930 Viking Oldsmobile, vervoer

Die eerste probeerslag met ‘n motorfiets en sy-waentjie het nie gewerk nie en die Coetsees het Oubaas in hulle Oldsmobile gelaai. Oubaas het ‘n pragtige maanhaarleeu geword, ‘n pronkstuk van sy spesie, sê Arie.

Die dieretuin se kurator het ingestem dat meneer Coetsee Oubaas kon besoek. Voor die leeukamp was daar gereeld ‘n groot histerie as besoekers gesien het hoe die Coetsees hulle hande deur die tralies druk. Dis nou tot die mense sien dat Oubaas meneer Coetsee se hand lek.
Oubaas het twintig jaar oud geword.     

 

© 2019 Die/The Bronberger