“Aah, die lente. Dié tyd van die
jaar wat die vernuwing van
alles daar buite die bloed uitbundig
deur die are laat borrel,” sê
Gert Mossie en hy vat ’n lang teug
van dit wat ewe uitbundig in sy glas
borrel.
“Gmf, ja,” sê Jan Pot, “dit is ook die
tyd van die jaar wat die kikuyu twee
keer ’n week gesny moet word en
alles in en om die huis reggemaak
moet word. Dit is nou as jy die
vrede in en om die huis wil bewaar,” sê Jan.
Laat hom nou dink aan laas naweek, sê ou Fred Kurper. Hy sit toe
maar so op die stoep en kyk of die
weer nie wil draai sodat hy kan viswaters toe nie, sê Fred. Maar toe sy
vrou, Annetjie, nou die derde of
vierde keer met die grassnyer hier
voor hom verbysukkel, toe voel hy
só sleg en kry hy só skaam dat hy
maar opstaan en sy bier in die kombuis
gaan verder drink.
Hy weet hulle het besluit om vir die
volgende drie maande glad nie rakbie
te praat nie en hy wil streng
gesproke ook nie rakbie praat nie,
sê Groot Piet Petoors. Hy wil net sê
dat hy so met die wêreldbeker saam
’n nuwe persepsie oor die ‘haka’
gekry het, sê Groot Piet.
Seker met dié dat die ding met die
wêreldbeker saam so gereeld onder
die oog gekom het. Dis die All
Blacks, Samoa, Tonga en Fiji.
Sewentien wedstryde - sewentien
vervloekte haka’s!
Die veronderstelling is dat dit ’n
skrikwekkende Maori oorlogsdans is
wat die vrees van die duiwel en sy
grootmoer in die opponente moet
jaag, sê Piet. Maar as jy lank en
genoeg daarna kyk, soos wat nou
die geval was, is die hele petalje
eintlik erg belaglik en kan dit op sy
beste as effe koddige, sydelingse
vermaak deurgaan.
So amper in die klas van daai kaalboudige
ouens met die rokkies en
die lang horings (met permissie) wat
voor elke wedstryd op genoemde
horings blaas. Ligte, bykans verleentheidskeppende vermaak, sê Groot
Piet.
Veral daai vierkantige ouens van
die eilandspanne is nogal kwaai
potsierlik in hulle uitvoering van die
haka. Dis ’n geswaai van die arms,
gefladder van tonge en ’n woeste
gestamp van die gestewelde voete
onder aan die bak, boomstompbene.
Dit alles terwyl die vierkantige gesigte op die vierkantige lywe na alle
kante toe getrek word om soos mismaakte
rubbermombakkies te vertoon.
Lyk vir my kompleet soos ’n
span ‘Sponge Bobs’ op steroids wat
vir ’n Sumo stoeigeveg opwarm, sê
Piet.
Nee, wat. Hy verstaan glad nie
meer hoekom mense kan dink die
haka is intimiderend nie. Dit sal
hom geensins verbaas as die een of
ander span wat aan die ontvangkant
van die gekkespul is, binnekort onbedaarlik gaan uitbars van die lag
nie. Dan kan hulle dit die ‘haha’
noem.
Hy gaan ook nie oor rakbie praat
nie, sê Gert Mossie. Hy wil net gou
vertel wat sy vriend Allies wat daar
in Ossieland bly, vir hom vertel het
net ná die tragedie van Wellington
se eie 9/11.
“Man, jy het geen idee watse pyn
en lyding hierdie oorwinning vir my
inhou nie”, skryf Allies vir Gert.
“Vir die volgende ses weke gaan die
ghym aan die groot klok gehang
word. Die derms gaan stukkie vir
stukkie uitgeryg word in die media,
van hoe suksesvol en hoe vernuftig
die klomp was.”
“Dag na dag, uur na uur sal dit in
my boerekeel afgedruk word. Ek
verwag selfs ’n onderhoud met die
laaitjie wat die lemoene halftyd aangedra het, en wat sy persepsie is
van die superspan,” sê Allies uit
Ossieland.
“Dan die outjie wat die emmertjie
sand of skopring aangedra het, en
waar hy homself sien 10 jaar van
nou af. Hoekom dink hy die plastiese ring is beter as ’n emmertjie
sand, en of hy bekommerd is dat sy
loopbaan nou in gevaar is?
“Dis om van siek te word.
Vervlakste Springbokke. As hulle
nou gewen het, was alles oor en
verby nog voor die stadion se hekke
gesluit was vir die nag. Daar sou
nooit ooit weer ’n haan daarná
gekraai het nie.” |