Skelms in ons midde Print E-mail
News - Kommentaar
Monday, 17 October 2011 09:43
Untitled Document

As landsburgers en belastingbetalers verwag ons dat skelmstreke, selfverryking, korrupsie en diefstal op staats-, provinsiale-, en munisipale vlak vasgevat word en dat die skuldiges se name en hulle skadelike wandade openbaar gemaak moet word. Almal is dit eens dat ons die ‘reg’ het om te weet. Ons verwag dit van die ‘vrye’ media om ons in te lig oor dergelike ongerymdhede.

As gewetenlose skelms binne ‘n bepaalde gebied en gemeenskap, soos die Bronberg-omgewing, met hulle streke besig is, sou dit sekerlik ook die plig van ‘n gemeenskapspublikasie, soos Die Bronberger, wees om skelms wat wild en wakker adverteer, maar nooit van plan is om daarvoor te betaal nie, se name bekend te maak.

Tog moet ons vandag bieg dat ons oor die afgelope nege jaar bewus geraak het van ‘n aantal sulke stoetskelms in ons gebied, maar tot dusver nagelaat het om julle, die gemeenskap, oor hulle in te lig en teen hulle te waarsku. Streng gesproke het ons, deur stil te bly, ons plig tot dusver versuim.

Die Bronberger is in die baie bevoorregte posisie om die volgehoue ondersteuning te kan geniet van ‘n groeiende groep ondernemings en entrepreneurs in ons gebied en van elders wat by ons adverteer. As onafhanklike, gratis gemeenskapspublikasie, kan ons nie sonder dié ondersteuning bestaan nie. Ons is trots daarop dat baie van dié adverteerders openlik erkenning gee aan Die Bronberger se bydrae om van hulle ondernemings ‘n sukses te help maak.

Natuurlik gebeur dit ook, soos in enige ander bedryf, dat ons met ‘slegte skuld’ te doen kry. Ons het simpatie met en is tegemoetkomend teenoor ouens wat weens uiteenlopende omstandighede soms noustrop trek en sukkel om hulle skuld te vereffen. Maar dit gebeur ook ongelukkig van tyd-tot-tyd dat aartsskelms hulle ondernemings in ons gebied begin bedryf. Mense waarop die begrip ‘slegte skuld’ nie van toepassing is nie, maar wat openlik steel. Kom ons noem nou maar ‘n dief, ‘n dief: Hulle is misdadigers wat hulle self as sakemense voorhou.  

Ons het hier te doen met gewetenloses wat gewoonlik met groot fanfare ‘n nuwe onderneming in ons gebied kom oopmaak. Tog vreemd dat dit dikwels hulle is wat aandring op onmiddellike, persoonlike en volgehoue aandag. Diesulkes wat jou gou laat verstaan hoe bevoorreg jy is om met hom sake te kan doen en wat gewoonlik baie meer van jou bedryf af as jy self weet.

Hierdie boewe wat onder die dekmantel van ‘besigheidsmense’ beweeg, sal by jou as verskaffer bestellings plaas sonder ‘n oomblik se voorneme om jou ooit vir jou produkte of dienste te betaal. Nie die soort waarmee ‘n ordentlike mens graag sake sou wou doen nie.

Gelukkig is hulle ‘n baie klein minderheid, maar hulle is in ons midde en dit is tog sekerlik die gemeenskap se reg om te weet wie hulle is en ons plig as gemeenskapspublikasie om hulle daaroor in te lig?

 

© 2020 Die/The Bronberger