?n Pannekoekhuis bokant die spoor PDF Print E-mail
News - Vreethans
Thursday, 22 September 2011 09:36
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie

Die geskiedkundige tweeling winkeltjies wat ewe netjies neffens mekaar aan die ‘verkeerde’ kant van die spoor in Cullinan se Oaklaan staan, het die afgelope jare al baie kuierplekke en ander bedrywe gehuisves.

Telkens in die verlede het die deure na wisselende wyles toegemaak, tot die volgende geesdriftige ou ‘n nuwe onderneming aanpak, net om dan soos sy voorgangers ook ná ‘n ruk bes te gee.

Nou het iemand weer ‘n poging aangewend om die een winkeltjie in ‘n kuierplek om te toor en ek wil voorspel dat dit hierdie keer op die langer duur gaan werk.

“Harrie’s Pannekoekhuis” staan dit teen die boonste winkel se muur geskryf en in Engels: “Harrie’s Pancakes.”

In die ooptetjie tussen die twee vinkel-en-koljander-geboutjies is tafels en stoele onder sambrele uitgepak. Ons parkeer voor die plek en gaan neem plaas by een van die buitetafels. Die tyd is net reg om ‘n laat ontbyt in te werk, besluit ons.


Tafels is netjies tussen die winkeltjies ingepak

Ons het by die regte plek ingeval. Harrie is duidelik groot op ontbyt. Op die netjiese tweetalige spyskaart, met verblydende goeie Afrikaans, is die keuse wyd. Regte ontbyt sonder ‘n pannekoek in sig, of warm sout pannekoeke met die verbeeldingrykste vulsels denkbaar, kan jy kies.

Die tradisionele ontbyt met sy gewone spek en eiers en wors en tamatie en sampioene en roosterbrood en so, kos R49. Die Dullstroom ontbyt bied gerookte forel en vier eiers en nog wat teen R55 en die eier Florentine met ham en spinasie en kaassous oor geposjeerde eiers kos ook R55.

Gesondheidsbrode, rogbrode croissante en dies met allerlei daarby is ook beskikbaar.

Metgesel besluit op die ontbyt met gerookte skelvis, geposjeerde eiers, spinasie, sampioene en roosterbrood. Dit kos R48.

Ek voel ook na skelvis, maar dis darem ‘n pannekoekhuis, dink ek en daarom bestel ek bogenoemde, sonder die eiers en met ‘n kaassous binne in een van Harrie se pannekoeke. Dit kos R45.

Die pannekoek is substansieel, lig en die vulsel geval my. Die ontbyt is smaaklik en vullend en die koffie is puik.

By Harrie kan jy werklik uit ‘n groot verskeidenheid kombinasies vir jou pannekoek kies. Of jy kan dit saam met ‘n gebakte aartappel (spud) bestel. Warm sout pannekoeke sluit in: hoender, sampioen en kasjoeneut; Thai hoender met rissiemarmelade; maalvleis en cheddar; bobotie; Hollandse spek en goed; Sjinese vark met perske en sprietuie; tamatie lamsbredie; en in Oos-Afrika-styl – soetpatats, spinasie, grondbone, tamatie en joghurt.

‘n Hele aantal koue, sout pannekoeke met ondermeer biltong is beskikbaar en ‘n groot klomp dekadente soetes, soos donker sjokolademousse met roomys, appeltert of melktert.

In Pretoria en omgewing het pannekoekplekke en ‘spudplekke’ sporadies in groot getalle gekom en gegaan en vir my was dit telkens ‘n jammerte – die gegaan, bedoel ek. Mog Harrie se pannekoekhuis nog lank in Cullinan staan.

Harrie se dranklisensie was nog nie ‘deur’ toe ons daar was nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger