Opstandingsplant is brand- en droogte-bestand PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 22 September 2011 11:18
Untitled Document

Daar groei ‘n wonderwerk-plant aan die hange van die Bronberg. Die pikswart verbrande, uitgedroogde stompe van die bobbejaanstert lyk dalk nog in Augustus en September of hulle dood is, maar as die eerste reën kom word groen blare binne ure uitgestoot tot die plant vroeg somer met massas pers blomme pryk.

Die bobbejaanstert, Xerophyta retinervis, val in ‘n familie wat as die opstandingsplante bekend staan. Dié plante oorleef brande, hulle blom veral goed ná ‘n winter-brand, en hulle kan vir lang tydperke sonder water oorleef in baie warm of baie koue toestande met sterk winde.


‘n Bobbejaanstert in volle blom
Foto: Cactuspedia

Droogte
As dit reën hidreer die plant heeltemal en hervat sy volle metaboliese funksies binne 24 tot 72 uur. ‘n Groep wetenskaplikes aan die Universiteit van Kaapstad gebruik nou ‘n suster-spesie van die bobbejaanstert, wat soortgelyke opstandingseienskappe het, as ‘n bron vir gene-studies. Hulle plan is om maniere na te vors om ander plante te help om erge droogte te oorleef.

Daar is 50 spesies in dié genus, waarvan nege in Suid-Afrika voorkom. Die genusnaam is afgelei van die Griekse woord, xeros, wat ‘droogte’ beteken, en phytos, die woord vir plant. Die naam verwys na ‘n genus wat verdorring kan weerstaan. Die Latynse woord ‘retinervis’ verwys na ‘n netwerk van are.

Medisinaal
Die bobbejaanstert het baie tradisionele gebruike. Die Zoeloes noem hom ‘isiphemba’ of ‘isiqumama’ en rook sy wortels om asma te verlig. Rook van die hele plant word ingeasem om neusbloeding te stop. Hulle gebruik sy bas teen algemene pyne en skete.

Wetenskaplikes het eers later agtergekom dat die aktiewe bestanddeel in dié plant, amentoflavone, ‘n anti-inflammatoriese middel is met pynstillende eienskappe. Dit is dieselfde middel wat in gingko-ekstrak gevind word.

Die geharde, veselagtige stamme word tradisioneel gebruik om matte, borsels en tou te maak en ook om hutte en skerms mee te bou. Blykbaar het die Voortrekkers klein blokkies van ‘n bobbejaanstert se stam as potskuurders en skuurborsels gebruik.


Moenie glo dat dié verbrande bobbejaanstert bo-op die Bronberg dood is nie

Struik
Die bobbejaanstert groei in grasland op rotsagtige koppies in vlak grond. Dié struik is gewoonlik omtrent 0,6 meter hoog, maar kan tot 1,8 meter hoog word in gunstige toestande.

Dig gepakte wortels groei in die hele lengte van die hoofstam af tot hulle die grond bereik. Die lang, smal blare is liggroen en verskyn in trosse oor die stam. Die pers blomme word aan lang, dun stammetjies gedra ná die eerste reën aan die begin van die somer geval het.

Groei
Die beste manier om ‘n bobbejaanstert voort te plant is deur sy saad. Versamel die saad nadat die kapsules oopgebars het in die somer. Saai in ‘n saailingmengsel wat waterhoudend is en plaas die saailingbak in ‘n houer met water. Dit neem twee tot vier weke vir die saad om te ontkiem.

Saailinge moet net voor die tweede groeiseisoen opgedeel word. Plant in vlak grond of in ‘n bak waar die plant vir baie jare kan groei sonder om oorgeplant te word. Bobbejaansterte groei baie stadig.

 

© 2019 Die/The Bronberger