PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 22 September 2011 11:14
Untitled Document

Al ooit gehoor van ‘n heilige voël wat op ashope en in riool rondpik? Dié voël is deur die antieke Egiptenare verafgod, wat sy Engelse naam - ‘African sacred ibis’ - verduidelik. Maar van waar sy Afrikaanse naam, skoorsteenveër? Blykbaar verwys dit na sy manier om die binnegoed van dooie voëls uit te skraap.

Die Egiptenare se heilige voël is ‘Die Vader van die Sekel’ genoem. Wanneer die Nylrivier oorstroom het, was daar derduisende skoorsteenveërs op die landerye wat dan as teken van ‘n goeie oesjaar gesien is.

Dié antieke beskawing het na die skoorsteenveër verwys as simbool van die god Thoth, wat soms afgebeeld is met die kop van ‘n skoorsteenveër. Baie van dié voëls is ook gebalsem en in heilige graftombes gesit.


’n Skoorsteenveër op soek na kos

Beskerm
Heroditus het geskryf dat skoorsteenveërs Egipte sal beskerm teen vlieënde slange wat die land vanaf die Arabiese lande probeer binnedring. Tog het die Egiptenare nie gehuiwer om skoortsteenveërs op te offer nie. Hulle het geglo dat die offerande van een so ‘n voël ‘n plaag van siekte-draende vlieë kon beïndig.

Sy wetenskaplike naam, Threskiornis aethiopicus, is ‘n kombinasie van Grieks en Latyns. ‘Threskiornis’ is die Griekse woord vir ‘heilige voël’ en ‘aethiopicus’ kom van die Latynse woord vir Ethiopië. Dat die skoorsteenveër ‘n heilige voël van Ethiopië af is, was klaarblyklik toentertyd ‘n raak beskrywing.

Vandag kom dié waadvoëls reg oor sub-Sahara Afrika voor en is uitgevoer na Frankryk, Italië, Spanje, Taiwan en die Verenigde State. Hulle bly rondom damme, vlei-gebiede, panne, riviermondings en moerasagtige streke. Skoorsteenveërs is egter so aanpasbaar dat hulle in landerye, op sportvelde, by rioolwerke en slagpale voorkom en op rommelhope aas na oorskietkos.

Hulle vreet vanaf sprinkane, krieke, besies, wurms, paddas, akkedisse en visse tot voël- en krokodileiers, kuikens, karkasse en ja, riool.


’n Skoorsteenveër in vlug

Voorkoms
‘n Skoorsteenveër is ongeveer 90 cm lank en weeg omtrent 1 250 gram. Mannetjies en wyfies lyk eners, maar die mannetjie is ‘n bietjie groter as die wyfie en het ‘n langer snawel. Die voëls is hoofsaaklik wit, met ‘n kaal swart kop en nek. Hulle het ook ‘n deurmekaar stuk swart vere op die laer rug.

In vlug sal jy die wit vlerke met ‘n swart randjie, gevorm deur die slagvere se swart punte, sien. Met broeityd word die streep kaal vel op die ondervlerke helderrooi en die vere op die sye geel. Onvolwassenes verskil van volwassenes deurdat die nekvere wit is.

Skoorsteenveërs is monogaam, maar sal ‘n nuwe maat vat as die bestaande een doodgaan. Hulle is baie sosiale voëls wat in groot gemengde-spesie kolonies van 50 tot 2 000 broeipare voorkom. Hulle is relatief stil vir sulke sosiale voëls en maak die harde krasgeluid net by hulle broeikolonies.

Skoorsteenveërs vreet bedags in kleiner groepies van twee tot 20 voëls en kan tot 30 km vanaf hulle broeikolonies gaan kos soek.

Dié broeikolonies kan gedeel word met ander spesies soos ooievaars, reiers, lepelaars, slanghalsvoëls en duikers. Hulle kan ook dig-gepakte enkel-spesie kolonies in bome, bosse, op die grond op klein eilandjies of selfs in verlate geboue vorm.

Nes
Die wyfie bou die nes van stokke, wat deur die mannetjie aangegee word, en voer dit uit met blare, gras en ander sagte materiaal. Die wyfie lê twee tot vyf dofwit eiers wat na ongeveer 28 dae uitbroei. Die kuikens word deur beide ouers opgepas, wat die kleintjies nie onder hulle oë uitlaat vir die eerste sewe tot tien dae van die kuikens se lewe nie. Hulle verlaat die nes ná 14 tot 21 dae om klein groepies kuikens te vorm. Dié kuikens begin ná 35 tot 40 dae vlieg en verlaat die kolonie as hulle 44 tot 48 dae oud is.

Die broeiseisoen is bykans dwarsdeur die jaar, maar sy piek is van Augustus tot Maart.

 

© 2019 Die/The Bronberger