Sou jy derduisende spoorwegpaaltjies in ‘n malaria-gebied gaan wit verf as jy ‘n werklose jong skilder uit Europa was? Dit is nou in die laat 1800’s voor mense geweet het hoe om ‘die koors’ te verhoed. Sou jy dan daarna, as die Anglo-Boere-oorlog uitbreek, by ‘n Boerekommando aansluit en probeer om oorlogstonele met kwas en potlood op papier vas te vang terwyl koeëls om jou vlieg?
Wel, dis presies wat die enigste amptelike oorlogskunstenaar aan Boere-kant, Frans Oerder, gedoen het. Frans is in 1899 deur president Paul Kruger as oorlogkunstenaar aangestel. Hy het onder kommandant Nico Hofmeyr by die Boeremagte aangesluit.
Frans Oerder is as die jongste van ‘n munisipale amptenaar se sewe kinders op 7 April 1876 in Rotterdam, Holland, gebore. Sy opleiding by die Rotterdamse Kunsakademie het in 1880, toe hy 13 jaar oud was, begin. Sy pa was blykbaar aanvanklik gekant teen dié kunsstudies, maar het Frans toegelaat om voort te gaan sodat hy sy opleiding kon gebruik om ‘n binnenshuise versierder te word. Wat hy van Frans se maande in die Afrika-veld sou sê, kan ‘n mens maar net raai.
Frans Oerder, ’n selfportret in 1937
Foto: Zuid-Afrikahuis
Medalje
Op die ouderdom van 18 het Frans die Koning Wilhelm III goue medalje en prys vir sy figuursketse gewen. Dit het ‘n beurs vir buitelandse studie ingesluit en Frans het ‘n studietoer na Italië onderneem. Intussen is sy pa oorlede en Frans het die bietjie geld wat sy pa vir hom nagelaat het gebruik om kunslesse in Brussel by die Franse skilder Ernest Blanc-Garin te neem.
Ná al dié studies kom Frans agter dat daar nie veel werk vir hom as kunstenaar was nie. In dié tydperk het hy ‘n Rotterdamse restaurantsaal met groot stillewes van blomme, vrugte, groente, krewe en sjampanjebottels versier. Holland het egter van kunstenaars gewemel en elkeen het van Transvaal gepraat.
Transvaal
In 1890 volg Frans sy broer na Transvaal. Hier loop die goudkoors hoog; niemand stel juis in kuns belang nie en die nuweling probeer tevergeefs om as tekenmeester leerlinge te kry. Die enigste werk wat hy hier kon kry was om huise vir die Pretoriase firma, De Wijn en Engelenburg, te verf.
Daarná kry hy ‘n kontrak by die Nederlandsche Zuid-Afrikaansche Spoorweg-Maatschappij en sy taak was om houtpaaltjies langs die Pretoria-Delagoabaai-spoorlyn wit te verf en met swart letters te voorsien. Dit is hier, in die Laeveld tussen Komatipoort en Krokodilpoort, waar Frans die Transvaalse landskap, wat hy later op doek sou vaslê, leer ken het.
Gedenkseëls met Frans Oerder se gesig, handtekening en van sy skilderye
Veld
Frans moes onder uiters moeilike omstandighede vir maande in die veld bly. ‘n Beskrywing van sy werkomstandighede is aangeteken in Winter se boek ‘Onder Kruger se Hollanders’: “In die barre wildernis onder vaak drukkende hitte en te midden van leeuwen, hyenas en jakhalzen” is gewerk. Daar was ‘n muskietplaag en die werkers het “soos bandiete” vir weke lank afgesonderd in die veld gebly.
Na afloop van sy spoorwegkontrak is Frans terug na Pretoria en kry in 1894 ‘n pos as kunsonderwyser aan die Staatsmeisjesschool. Hy huur ook ’n ateljee in Kerkstraat-oos, teken spotprente vir koerante, help beeldhouer Anton van Wouw met kommissie-werk en neem JH Pierneef as student in. Volgens die kenners het Frans 'n groot invloed op Pierneef se landskapskilderkuns gehad.
Oorlog
Dié relatief idilliese bestaan het tot ‘n einde gekom met die uitbreek van die Anglo-Boere-oorlog. Prof Alexander E Duffey, kunsgeskiedenis-dosent aan die Universiteit van Pretoria, het ’n studie van Frans se oorlogsjare gedoen en sê dat Frans, as amptelike oorlogskunstenaar, 90 potlood-en-waterverf-sketse gemaak het.
Sy tekeninge van Boere op slagvelde, in loopgrawe, op kommando, in kampe, en die strategiese dorpies langs die paaie na die oorlogsfronte, was voorlopige sketse vir groter olieverfskilderye wat Frans later sou maak.
Frans se oorlogsketse en skilderye is in drie afdelings verdeel: werke wat aan die Natalse en Vrystaatse front gemaak is en dié wat met die Britse besetting van Pretoria ná Junie 1900 gemaak is.
Baie van dié werk is later in ‘n brand verwoes. Dit wat oorleef het is vandag in versamelings van die Universiteit van Pretoria, die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein, en die Africana Museum in Johannesburg.
’n Plaas naby Pretoria in 1896
Swerf
Ná die oorlog swerf Frans vir die grootste deel van 1903 en 1904 in die Mosambiekse kusstede rond. Dié swerftogte het talryke klein skilderye, wat hy in Inhambane, Ibo en Palma geskilder het, tot gevolg gehad. In dié tyd het hy malaria opgedoen en oorleef.
Frans se eerste belangrike opdragwerk volg hierna: om twee skilderye vir Pretoria se halfeeufees te skilder. Die skildery ‘Pretoria, 1906’, wys die jong stad met ‘n opkomende donderstorm in die agtergrond.
Later skilder hy die reeks burgemeesters wat in Pretoria se stadhuis gehang het en ook die lewensgrootte afbeelding van Generaal Louis Botha.
Nederland
Tog was dit vir Frans moeilik om in die na-oorlogse Pretoria ‘n bestaan te maak. In 1908 keer hy na Nederland terug via Italië. Hy bly eers in Brabant, maar trek later na Amsterdam. In dié tydperk hou Frans ’n reeks suksesvolle uitstallings. In 1909 het hy ‘n silwermedalje by die Internasionale Tentoonstelling in Amsterdam gewen en daarna was sy werk wyd in aanvraag. Hy het ook later, in 1920, ‘n silwermedalje op die Internasionale Tentoonstelling in Brussel gewen.
In 1910 trou Frans met Gerarda Petronella (Gerda) Pitlo, ’n verdienstelike skilderes van blomstukke, in Amsterdam. Deur die jare het Frans egter nie sy bande met Suid-Afrika verbreek nie en het elke nou en dan ‘Die Brandwag’ se voorblaaie ontwerp en uitstallings in Johannesburg gereël.
Transvaalse landskap met ruiters
Foto: Auction House Records
Terug
Frans en Gerda besluit in 1938 om terug te keer na Suid-Afrika. Frans hou eers ‘n solo-tentoonstelling in Kaapstad en daarna vestig die Oerders hulle in Pretoria, van waar hulle die land vol toer.
Dié keer was Frans se aankoms in Pretoria heel anders as in 1890. Hy was beroemd en die toring-kamer van die Pretoriase Stadsaal is aan hom beskikbaar gestel as ateljee. Dit is hier waar hy ‘n aantal belangrike portrette geskilder het, wat dié van Jan Smuts insluit. Frans is in 1944 in Pretoria oorlede ná longontsteking.
Daar word gesê dat Frans Oerder die grondslag vir ‘n eg Suid-Afrikaanse landskapskilderkuns-idioom gelê het. In sy leeftyd het hy sowat 600 portretstudies gemaak. Stillewes en blomstudies was onder sy gewildste werke en sy skildery, ‘Magnolia’, het vir ‘n lang tyd die hoogste wêreldverkope van ‘n stillewe-afdruk gehad.
‘n Transvaalse veldbrand
|