Nasate laat oupa Watkins se winkel leef PDF Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 23 August 2011 15:13
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie

Vyf kilometer van Bapsfontein af, neffens die vaal, reguit pad na Springs, staan ‘n ou opstal met ‘n lekker rondomstoep. Hou gerus stil as jy dalk daar verbybeweeg. Of rig ‘n tydjie in en ry aspris soontoe. Jy sal nie spyt wees nie.

Want in dié ou winkel wat hulle oupa Watkins in 1933 gebou het, het sy nasate ‘n baie spesiale kuier- en koopplek ingerig. Hulle noem dit Broodblik en Koffiepit.

Ons sit op ‘n Saterdag af Broodblik en Koffiepit toe. Op Sondae is hulle toe. Die wonderlike reuk van vars gebak verwelkom jou as jy by die voordeur instap. Oral op die rakke is gebak, gebottel en tuisgemaakte snuisterye uitgestal. Kompleet soos ‘n plaaskombuis uit ‘n ander era.


Die winkel wat oupa Watkins gebou het

Sommer met die intrapslag laat Sarel, sy ma en sy susters en hulle baie spesiale plek ons voel of ons eie familie is. Dit kan ook nie anders nie, die mense praat met jou asof jy ‘n baie ou vriend is. Gemaklik en gemoedelik is die atmosfeer.

By die agterdeur uit kan jy in die Koffiepit-buitegebou by ‘n tafeltjie plaasneem of met ‘n paadjie af na ‘n tafel onder ‘n boom in die tuin beweeg. Ons doen laasgenoemde.

Oral op die agterstoep, in die eetplek en in die tuin het interessante oudhede, versamelstukke en handgemaakte mooigoed ‘n blyplekkie gekry. Dis met moeite dat ek Metgesel so ver kry om ‘n slag te kom stilsit om na die spyskaart te kyk en te bestel.

Ek is bly, maar nie te veel verras nie, om kondensmelkkoffie op die spyskaart te sien. Dis die soort plek waar jy kondensmelkkoffie sal verwag en nie verbaas sal wees oor die pap en kaiings, varkvet op boerbrood en koffie en beskuit op die spyskaart nie.

Jy kan ‘n baie wye verskeidenheid ligte etes en ontbyte by die Blik en Pit bestel. Jy word getempteer met ‘n groot verskeidenheid soetgebak en 14 soorte toebroodjies. Varsgebakte pasteie sluit ‘n potjiekos- en wildspastei in. Slaaie, worsrolle, pizza-skywe, hamburgers en wat nog is daar om van te kus en te keur. En iewers op die vol spyskaart is plek vir ‘steaks’ ingeruim.


‘n Ontspanne kuier in die plaaswerf se tuin

Terwyl ons op ons pasteie wag, myne ‘n wildspastei met sous en Metgesel ‘n kerriehoender met slaai, kom kuier ‘n bont werfhond. “Haar naam is Koffie,” gesels een van die Blik en Pit se susters spontaan van die tafeltjie langsaan af. “En daardie klein brakkie wat daar in die son lê, is Cupcake.”

Suster vertel dat al die diere op die plaaswerf se name verwant hou met hulle produkte. Die vet hondjie is byvoorbeeld Muffin en die perd is Chelsea Bun. En die hoenderhaan wat gereeld die stoep bemors, se naam is Beskuit.

My wildspastei is vol gelaai met smaakvolle, sagte vleisies met ‘n beduidenis van groente daarby. Volgende keer sal ek die sous los en eerder ‘n kweperjellie of iets by die wild geniet. Myne kos R28. Metgesel se pastei kos R18 en ‘n baie ruim porsie slaai R12. Die kerriehoender val so reg in haar smaak.

Ek besluit om nie die rare kans te laat verbygaan nie en bestel die ‘toebroodjie’ met varkvet en appelkoosjam. Wat aankom is vier reuse snye, liggies geroosterde boerbrood in ‘n mandjie. Die eerste sny ‘doen’ ek met varkvet wat ek goed gooi met die sout en peper. In die sewende hemel is ek. Die appelkoosjam is van só ‘n aard dat ek later vir my ‘n bottel en ‘n varsgebakte boerbrood aankoop vir die huis. Die vullende broodervaring kos R18. Agterna vertel Sarel dat jy maar mag geniet aan die varkvet en ander ryk geregte, solank jy net elke dag ‘n bietjie pomelosap drink.

Jy kan Sarel bel by 011-964-7021 of 079-882-5890.

* Verlede maand het ek ongelukkig die telefoonnommer van Blos Café in Lynnwoodweg verkeerd gehad. Die regte nommer vir Blos is 012-807-1709.

 

© 2019 Die/The Bronberger