Vestig vlermuise in jou tuin om peste uit te roei Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 23 August 2011 15:12
Untitled Document

Het jy geweet dat vlermuise kan help om van die grootste pestilensies ontslae te raak? Hulle vreet muskiete, vlieë, besies, kakkerlakke en kan ook gebruik word om inseksoorte wat lastig is in vrugteboorde en gesaaides, in toom te hou.

Die beste nuus is dat ‘n enkele vlermuis die helfte van sy liggaamsgewig aan muskiete per nag kan vreet. ‘n Relatiewe klein groepie van 150 vlermuise kan tot 60 000 insekte per nag vreet. Baie insekte word boonop ook afgeskrik deur vlermuise se eggo-plasingsklanke.

As jy wonder hoe om dié nuttige plaagdoders op jou werf te vestig, sal die kenners jou vertel dat ‘n vlermuishuis of vlermuishotel die antwoord is. Boonop is die mis wat onder die oop kas versamel baie goeie bemesting vir tuine.

Onthou net dat alle vlermuise nie in dieselfde soort vlermuishuis sal bly nie. Daar is vlermuise wat nou gleuwe verkies terwyl ander groter spasies benodig.


Die eerste vlermuishuis-projek in die land is deur Nigel Fernsby by Ngwenya geloods
Foto: Bats Interest Group Gauteng

Huisies
Nigel Fernsby, voorheen voorsitter van die Gauteng en Noordelike Vlermuis Belangegroep, is reeds vir 11 jaar besig met vlermuisbewaring en het die eerste vlermuishuis-projek in Ngwenya geloods.

Hy beveel aan dat ‘n vlermuishuis in die lente opgesit moet word en ten minste 1,5 meter bo die grond moet wees omdat vlermuise eers vryval voordat hulle begin vlieg. Vlermuishuise kan teen geboue se mure opgesit word en vlermuishotelle op pale in die tuin. Hulle word die vinnigste beset as daar ’n lig naby is wat snags insekte lok.

Die temperatuur in die vlermuishuis speel ‘n groot rol. Hy moet teen ’n noordwestelike muur vasgemaak word omdat die vlermuishuis namiddagson nodig het vir die vlermuise om warm te word vir die nag.


Nigel Fernsby het groot sukses behaal met ontwerpe van vlermuishuise wat verskillende soort vlermuise nader lok
Foto: Bats Interest Group Gauteng

Woon
Daar sal ongeveer 150 vlermuise in ‘n plat vlermuishuis woon, maar ’n vlermuishotel kan tot 5 000 vlermuise huisves. Daar moet geen lekkasies of trekke in dié konstruksies wees nie, maar chemiese seelaars moet ook nie gebruik word nie omdat die sterk reuk die vlermuise sal afskrik.

Die buitekant van die houtkas kan swart of grys geverf word om die huisie warmer te maak. Maak seker dat daar genoeg ruimte om die huisie is sodat die vlermuise vrylik kan beweeg. ‘n Obstruksie of boom nader as twee meter aan die vlermuishuis, sal die vlermuise pla.

En, sê die kenners, jy moenie meer as een keer ‘n week in dié huisie gaan loer of vlermuise al ingetrek het nie. Dit sal hulle so pla dat hulle die huisie waarskynlik sal verlaat.

Vreet
Alhoewel 70% van vlermuise insekte vreet, is daar tropiese spesies wat slegs vrugte of nektar vreet. Nektarvreters bestuif bome soos die kremetart- en worsboom en versprei saad, soos dié van die mango-genus.

Sowat 70% van alle vrugteplante is afhanklik van vlermuise vir bestuiwing of saadverspreiding. Sonder vlermuise sou ons nie avokado's, piesangs, dadels perskes, vye, karob of papajas kon eet nie.
Daar is ‘n paar spesies vlermuise wat karnivore is en visse, paddas, muise en voëls jag.

Vampiervlermuise kom egter net in Suid-Amerika voor. Blykbaar is 'n bloedverdunningstof in hulle speeksel 25% meer doeltreffend as enige bestaande medikasie, en word deesdae gebruik om hartpasiënte te behandel.

Die wêreld se grootste vlermuis, met ’n vlerkspan van sowat 1,7 m en ’n liggaamslengte van meer as 40 cm, bly in Java. Die kleinste een, slegs 3 cm lank met ’n gewig van 2 g, bly in Wes-Thailand.


Die eerste vlermuishotel in Suid-Afrika is meer as 50 jaar gelde by Komatipoort opgerig in ‘n poging om vlermuise te lok sodat hulle die malaria-draende muskiete kon vreet
Foto: Bats Interest Group Gauteng

Sonar
Iets wat alle vlermuise deel is hulle sonarstelsel. Vlermuise maak eggo-plasingsklanke terwyl hulle vlieg, en bepaal dan met die hulp van eggo’s of daar enige hindernisse in die pad is.

Dit is nie waar dat vlermuise blind is nie. ‘n Vlermuis kan met toegeplakte oë vlieg, maar as sy mond en ore toegeplak word en hy nie geluide kan maak nie, sal hy in alles vasvlieg.

Dié skril geluide is te hoog vir die menslike oor, maar kan met 'n vlermuisverklikker gemeet word. Wanneer hulle vlieg, registreer die verklikker sowat 10 geluide per sekonde. Sodra die vlermuis ‘n insek gewaar en dit begin jaag, styg dit na 200 geluide per sekonde.

Hulle sonarstelsel is só goed dat 'n visvlermuis 'n voorwerp wat 2 mm lank en so dik soos 'n menslike haar op die wateroppervlak kan bespeur.

Slim
Die kenners sê dat vlermuise so intelligent is dat hulle ‘n spesifieke persoon tot 10 jaar lank kan onthou en uitken. Dié enigste vlieënde soogdiere is glad nie, soos hulle naam sê, verwant aan muise nie. Hulle is blykbaar verwant aan primate (ape) en hulle oogsenuwee kruis op pad na die brein, net soos dié van primate. Dit is nie die geval by ander soogdiere nie.

Vlermuise kan tot 35 jaar oud word en is die langslewende soogdier vir hulle grootte.


Egiptiese vrugtevlermuise in ‘n hokkie
Foto: The Bat House Forum


Kontak
Vir meer inligting, kontak Nigel Fernsby by 071-609-8230 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . Vir hulp met beseerde of baba vlermuise, kontak FreeMe by 083 558-5658 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . Vir raad met vlermuishuise, kontak Eco Solutions by 072-365-9777 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . Vir meer inligting oor vlermuise, besoek www.batsgauteng.org.za. Verskeie planne vir vlermuishuise van alle groottes en vorme kan by www.batconservation.org gekry word.

 

© 2020 Die/The Bronberger