Oeroue pyngeheim groei in bloubos PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 23 August 2011 14:56
Untitled Document

Dit het ruimte-eeuse tegnologie geneem om te bevestig wat die Boesmans nog altyd geweet het: ‘n Bloubostakkie verhoed tandpyn en tandvleissiektes.

Aktiewe bestanddele wat in die bloubos gevind word, inhibeer die groei van bakterieë wat in die mond voorkom, soos Streptococcus mutans en Streptococcus sanguis, en ook periodontiese patogene, soos Porphyromonas gingivalis and Prevotella intermedia.

In ‘n gesamentlike studie deur prof Pieter van der Bijl van Stellenbosch Universiteit se mediese skool en prof Christine Wu van die Universiteit van Illinois, is vier nuwe chemiese verbindings, wat nog nooit voorheen opgeteken is nie, saam met ‘n paar bekende anti-mikrobiese verbindings in die bloubos geïsoleer.

Dit is bevind dat dié chemiese komponente ‘n baie noue verbintenis het met ‘n bekende mondspoelmiddel.


Bloubos-blomme
Foto: Calflora

Tande
‘n Opname wat ‘n dekade gelede gedoen is, het ook bevind dat diegene wat aan bloubostakkies kou, minder gaatjies in hul tande het as dié wat tandeborsel en tandepasta gebruik.

Blykbaar werk die prosedure soos volg: jy pluk ‘n potlood-grootte takkie van die bloubos, kou die een kant tot dit soos ‘n verfkwas begin lyk en gebruik dit dan om die tande te krap en die tandvleis te masseer. Dié metode word eeue reeds in Afrika gebruik.

Dié is egter nie die bloubos se enigste tradisionele gebruik nie. Sy geroosterde en verpoeierde wortels word met skaapvet gemeng en as ‘n soort pleister aan die lyf geplak om pyn te beheer.

Legendes
Die Nama van Namibië glo dat as die bloubos met ‘n opwaartse beweging gesny word, die medisyne wat daarvan gemaak word ‘n braakmiddel sal wees. As dit met ‘n afwaartse beweging gesny word, maak dit ‘n purgasie-medisyne.

Die Vendas gebruik die bloubos saam met katjiepiering om die gees van ‘n jong man wat voor hy kon trou dood is, gerus te stel. Hulle gebruik dit ook as ‘n talisman teen vyande. Die bloubos se vrugte word aangewend om bier te maak en sy geroosterde, fyngemaalde sade word gebruik as ‘n soort koffie. ‘n Geelbruin kleurmiddel word van die wortels verkry en die bas word gebruik om leer te looi.


Die Transvaalse bloubos
Foto: Plantzafrica

Naam
Die naam ‘bloubos’ verwys na die kleur van die blare en is ‘n bekende pleknaam, soos Bloubospan, Bloubosdrift, Bloubosdoorn en Bloubospoort. Die suid-Sotho naam vir die bloubos - ‘monkga nku’ - beteken ‘ruik soos ‘n skaap’. Die Transvaalse bloubos, Diospyros lycioides subspesie guerkei, is een van 14 spesies Diospyros wat in Suid-Afrika voorkom. Dié naam is saamgestel uit die Griekse woord ‘dios’ wat ‘van Zeus’ beteken en ‘pyros’ wat iets soos ‘ryskorrel’ beteken. Dit verwys na ‘n plant met eetbare vrugte.

Vrugte
Die bloubos dra van Januarie tot Mei vrugte met ‘n aangename soet smaak. Die jong vrugte is deur hare bedek, maar is haarloos as hulle ryp word en van rooi na ‘n rooierige bruin tot swart verkleur. Om vrugte te kry, is dit nodig om beide ‘n manlike en vroulike boom te plant, alhoewel net die vroulike boom vrugte dra.

Die boom dra van September tot Desember klein klokvormige, romerige geel blommetjies. Die blomme lok ‘n verskeidenheid insekte, veral bye, en dus ook insekvretende voëls. Die vrugte word deur al die vrugtevretende voëls, asook, dassies en ape, geniet.


Die rooi vrugte
Foto: Bronberg Bewaria

Gehard
Die Transvaalse bloubos is ‘n geharde struik of klein boompie wat vyf meter hoog kan word. Hy groei in goed gedreineerde grond in vol son. Dit is moeilik om lote te laat groei, so gebruik eerder sade. Laat die sade oornag in warm water week voor jy hulle saai. Plant die saailinge uit met baie kompos, voer met 3:1:5 kunsmis en gee gereeld water.

Jong plante groei vinnig. As jy die takkies se punte afknyp, sal die jong plant ‘n bosagtige struik word wat as ‘n heining aangeplant kan word.

 

© 2019 Die/The Bronberger