Halfgebakte poging Print E-mail
News - Kommentaar
Wednesday, 21 May 2008 02:00
Untitled Document

Almal maak foute. Sien? Party maak net aansienlik meer foute as ander. En dit blyk of die munisipaliteit van Kungwini tradisioneel uitblink in die maak van blatante foute.

Kungwini se jongste flater raak die sak van elke inwoner wat die twyfelagtige voorreg het om hom of haar binne sy munisipale grense te bevind.

Dit het te make met die berekening van nuwe belastingskale soos vervat in die konsep-begroting. ’n Begroting wat terloops in amperse geheimhouding en met bykans geen kans op insae en kommentaar van die gemeenskap nie, afgehandel is. Bykans elke kleinhoewe in ’n groot gebied is verkeerd gewaardeer. En uit owerheidsweë, word die ou cliché as verskoning aangebied, dat almal maar foute maak.

Die verduideliking dat geen waarderingsproses ooit 100 persent reg kan wees nie, is billik en verstaanbaar. Maar is dit aanvaarbaar dat só ’n proses bykans 100 persent verkeerd kan wees?‘n Sekere oom het op ’n dag gesê: “Ek weet ek is nie altyd reg nie, maar ek kan tog wragtig ook nie altyd verkeerd wees nie.” Dit mog wel die geval met die oom gewees het, maar ons begin ernstig wonder oor Kungwini.

‘n Mens mag, gegewe die omvang van die fout, wonder of ’n enkele waardeerder in die gebied bedrywig was om sy waardasies te doen voor die berekeninge vir nuwe belastingskale gedoen is. Selfs die ‘maklike’ uitweg deur gebruik te maak van lugfoto’s om ontwikkeling op eiendom te bepaal, lyk te veel moeite te gewees het.

Dit was duidelik net weer ’n halfgebakte poging van ’n onbekwame plaaslike owerheid wat nog eens die belastingbetaler met die (half)gebakte pere los.

 

© 2020 Die/The Bronberger