Wees tog bedagsaam op grondpaaie PDF Print E-mail
News - Briewe
Wednesday, 21 May 2008 00:00

Stoffies van Zwavelpoort skryf:

Ek wil graag vir die baie nuwe inwoners van ons mooi gebied welkom sê, maar ek wil ook ’n ernstige beroep op hulle doen.

Ek weet dat die meeste van julle seker nog nooit op grondpaaie gery het nie en seker nie so mooi weet hoe dinge hier werk nie. Soos julle seker al agtergekom het, maak grondpaaie stof as ’n mens met jou kar daarop ry. Wat julle duidelik nie weet nie, is dat jy nie ’n stofpad kan flous deur so vinnig as moontlik daarop te ry nie. Hoe vinniger jy ry, hoe meer stof gooi ’n grondpad uit. Dit is regtig waar. Jy sal dit glo as jy ’n slag in jou truspieëltjie kyk.

Nou mag julle dalk dink dat ’n mens op dié manier vir die stof kan wegjaag. Tot ’n mate is dit seker waar, maar die ander mense wat in die omgewing woon of die pad op dieselfde tyd gebruik, moet dan ongelukkig onder jou stof deurloop. Ek weet nie hoe dinge gewerk het daar waar julle vandaan kom nie, maar hier het die mense nog altyd ander mense in ag geneem.

Julle sal ook nie weet dat dit verskriklik onbedagsaam en baie gevaarlik is om op ’n grondpad by iemand, wat juis stadig ry om nie sy medemens te folter nie, teen ’n hengse spoed verby te jaag nie. Teen die spoed wat julle ry kan niemand by julle verbykom nie, al wil hulle.

Bly tog maar vir dié minuut of twee agter die ou wat voor jou ry. Ons praat nie van lang ente pad nie en jy gaan hoogstens twintig sekondes later by jou bestemming kom.

En nog ’n ding; die nou paadjies wat ons hier het is nie spesiaal so gebou om‘chicken’ met jou mede-padgebruikers te speel nie. Die idee is dat jy met twee wiele links van die pad sal ry sodat jy en die ou wat van voor af kom en dieselfde doen veilig en vriendelik by mekaar verby kan kom.

 

© 2019 Die/The Bronberger