Ons beste advertensie Print E-mail
News - Kommentaar
Saturday, 23 July 2011 00:21
Untitled Document

Hoekom maak dit goeie sin om in Die Bronberger te adverteer?

Voor ons enkele antwoorde op dié vragie gee, net ‘n bietjie agtergrond: Die Bronberger is ‘n onafhanklike publikasie wat die afgelope bykans nege jaar die eiesoortige gemeenskap oos van en in die ‘verre ooste’ van Pretoria bedien.

Ons het nie die rugsteun van enige groot groep of organisasie nie en maak uitsluitlik staat op ons adverteerders vir ons voortbestaan.

Ons het ook nie ‘n reuse bemarkingspan wat advertensies kan werf nie. Ná ‘n baie stadige begin het ons deur die jare die ruggraat van ‘n aantal gereelde adverteerders gevestig. Adverteerders wat die waarde van ‘n advertensie in Die Bronberger ervaar het en daarmee volhard.

Die vraag is; hoekom werk ‘n advertensie in Die Bronberger vir hulle en hoekom sal dit ook vir jou en vir ander werk? Die paar antwoorde op dié vraag is nie uit die lug gegryp nie, maar is gegrond op feite wat deur jare se waarneming, terugvoer en navorsing bepaal is:

  • Die Bronberger is uiters gewild onder sy lesers. ‘n Baie lojale leserskorps is oor ‘n wye gebied gevestig. Lesers wat Die Bronberger met bykans besitlike trots as ‘hulle eie’ koester. Die meelewing van ons lesers is ongekend in die lang en wye publikasie-ervaring van Die Bronberger se eienaars. Dié lojaliteit en vertroue in die tydskrif se geloofwaardigheid deur sy lesers, lei ook direk tot die vrymoedigheid en wilsbesluit om sy adverteerders te ondersteun.
  • Die koopkrag van ons gereelde lesers is iets om mee rekening te hou. Die verspreidingsgebied van Die Bronberger sorg daarvoor dat ‘n baie groot persentasie van sy lesers in ‘n hoë inkomstegroep val.
  • Die lang ‘raklewe’ van Die Bronberger sorg vir ekstra blootstelling. In baie huishoudings sal jy dié glanstydskrif vir ‘n maand of langer op die koffietafel sien. Daar word gereeld teruggegaan na ‘n uitgawe om iets na te slaan. ‘n Groot aantal lesers gooi nie ‘n enkele Bronnie weg nie, en baie hou elke uitgawe op lêer.
  • Ons sorg dat ‘nuwe bloed’ elke maand aan Die Bronberger blootgestel word. Behalwe vir ons gereelde verspreidingspunte en vaste posverspreiding, hou ons maandeliks ‘n aantal tydskrifte eenkant wat telkens aan ‘nuwe lesers’ versprei word. Ons doen dit deur wisselend van ander pos- en toonbankpunte gebruik te maak.
  • Die uitlegmetode wat ons gebruik verseker dat jou advertensie deur lesers raakgesien word. Anders as die meeste tydskrifte, wat advertensies in groepe op agtereenvolgende bladsye saambondel en dan weer ‘n aantal bladsye aan redaksionele inhoud afstaan, maak ons seker dat jou advertensie altyd by (op dieselfde blad as) ons gewilde stories, artikels en rubrieke is.
Ons kan ook oor die gehalte van ons papier en ons drukwerk, ons lae pryse, ons afslag-pakkette en gratis uitlegdiens praat en ook etlike ander redes opdiep wat die voordele van ‘n advertensie in Die Bronberger uitlig. Maar ons sal volstaan deur baie dankie aan dié adverteerders te sê wat jaar na jaar, elke maand adverteer. Julle is ons heel beste advertensie.

 

 

 

 

© 2024 Die/The Bronberger